Sunday, March 29, 2015

Die pad van lyding

Datum:29 Maart 2015
Erediens:Oggend 1ste diens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema: Die pad van Lyding
Teks:Lukas 9:23-27

Votum: Psalm 118:24, 1-4
24Dit is die dag wat die Here tot stand gebring het;
Laat ons juig en ons in Hom verheug!
1Loof die Here, want Hy is goed
Vir ewig duur sy troue liefde!
2Laat Israel sê:
Vir ewig duur sy trou liefde
3Laat die huis van Aaron sê:
Vir ewig duur sy troue liefde
4Laat die wat vir die Here ontsag het sê:
Vir ewig duur sy troue liefde!

Preek:
Inleiding:
In die kerkjaar word vandag as Palmsondag gevier. Die idee met Palmsondag kom van die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem, so ongeveer die week voor die Paasfees, toe hy gekruisig is. Dis die storie van Jesus op ’n geleende donkie, wat in Jerusalem inry, met die mense wat palmtakke swaai, hul klere in die pad voor hom uitgooi en hom soos ’n koning in Jerusalem verwelkom.
Mense het ’n verwagting van Jesus gehad, die verwagting dat hy die Messias, die Christus, die spesiaal geseënde van God sou wees, wat ’n rewolusie sou lei, Herodes en die Romeine sou wegjaag en sou koning word, soos Dawid van ouds. Jesus sou wel koning word ’n week later, maar anders as wat die mense gedink het.

Jesus het Jerusalem toe gekom om sy koningskap te kom opneem. Hy het gekom om gekroon te word met ’n doringkroon. Hy het gekom om sy koningskap gewelddadig op te eis, deur al die geweld op homself te neem. Hy het gekom om op die troon te sit, maar die troon was in die vorm van ’n kruis.
Hierdie prentjie van God se koning oor Israel het nie in mense se koppe gewerk nie en daarom het ’n klomp mense, sy dissipels ingesluit hom gelos daarom alleen te doen. Die ironie daarvan alles is dat Jesus dit sien kom het en sy dissipels daaroor gewaarsku het. Jesus het ook nog verder gegaan en vir sy dissipels gesê dat hulle ook so moet wees, indien hulle hom werklik wil volg.

Skriflesing:
Lukas 9:18-27

“As iemand my wil navolg”
Iemand wat ’n groot rabbi nagevolg het, is daardie rabbi se dissipel genoem. ’n Dissipel van daardie tyd moes aansoek doen by ’n rabbi. ’n Dissipel moes ’n uitmuntende student wees, wat die hele Ou Testament, van Genesis tot Maleagi woord-vir-woord moes ken.

Jesus draai die stelsel op sy kop. Hy stap eendag op die strand af en nooi ’n klomp jong manne om hom te volg; manne wat dit nie kon regkry om die Ou Testament so te ken nie en sommerso sonder ’n onderhoud. Dáárby nooi hy later ook ouens, soos die tollenaar Matteus.

Die manier waarop mense van die antieke wêreld dissipelskap verstaan het, was om te doen wat jou meester doen. Dit was nie net professioneel van aard nie; dit het oor ’n hele leefstyl gegaan. ’n Dissipel sou die meester oral volg en letterlik leer om alles te doen wat die meester doen. ’n Dissipel wou praat soos sy meester, loop soos sy meester, eet soos sy meester, in alles wees soos sy meester.

Dit het beteken dat Jesus se dissipels by hom sou leer hoe om te leef. Jesus het deur dissipels bymekaar te maak die definisie van gehoorsaamheid verander. Die manier hoe die mense met die Ou Testament gewerk het, was om beginsels uit te werk wat mense dan moes gehoorsaam. Dit het baie vinnig ontaard sodat mense mekaar kon klassifiseer as reg of verkeerd, goed of sleg, in of uit. Om egter ’n dissipels van die lewende God te wees, sou beteken dat daardie manier van doen nie sou werk nie. ’n Dissipel moes maak soos sy leermeester maak. ’n Dissipel van Jesus moes maak soos Jesus maak.

Dit het beteken dat jy een oomblik in die tempel sou staan en sorg dat iemand wat onder die wet doodgemaak moes word, uit steniging uit kon praat; maar in dieselfde tempel mense wat in diens van die offers sake gedoen het, met geweld uit die tempel kon jaag. Om Jesus se dissipel te wees het beteken dat jy sou leer dat jy nie ’n wet kon hê vir alles nie, dat jy aan die persoon van Jesus moes gehoorsaam wees en dat jy soms moes doen wat op die oog af verkeerd of sleg lyk, sodat jy dit kon doen wat eintlik reg of goed is. Dit kan jy net leer as jy elke dag saam met Jesus leef en elke dag by hom leer om soos hy te leef.

Jesus was besig om sy navolgers ’n nuwe manier van lewe te leer. Die standaard wat Jesus vir sy dissipels stel egter baie hoër as dit wat ander rabbi’s vir hulle dissipels gehad het.

“Moet hy homself verloën en elke dag sy kruis opneem en my volg.”
Jesus het baie goed geweet dat die pad na Jerusalem sy fisieke dood sou beteken. Hy moes gaan ly onder die groeperings wat veronderstel was om God se wil vir die Jode sigbaar te maak. Die familiehoofde moes God se regverdige mag oor sy mense uitoefen. Die Skrifgeleerdes moes aan die volk die rykdom van God se woord leer. Die Priesterhoofde moes hulle lei in ’n intieme verhouding met God deur lof, aanbidding en die offers. Al die magte wat struikelblokke in die pad van God se liefde vir sy aarde geword het, was verteenwoordig in die mense wat Jesus noem.

Jesus kondig egter reeds sy oorwinning in die teks aan. Op die derde dag sou Hy weer opstaan uit die dood, sodat die magte wat Hom wou oorweldig oorwin kon word. Ons wat na Jesus se opstanding leef weet hy was getrou aan hierdie belofte. Daarom kan Jesus vir sy dissipels sê (v23): “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg...” Die fisiese dood aan die kruis het nie die laaste sê nie.

Dietrich Bonhoeffer, ’n Duitse martelaar in die Tweede Wêreldoorlog, skryf in sy boek The cost of Discipleship oor hierdie teksgedeelte: “When Jesus calls a person, he bids him come and die.”

Wanneer iemand in die Romeinse tyd gekruisig was, was dit die swaarste straf wat op daardie persoon gelê kon word. So persoon moes sy kruis deur die strate van die dorp dra, sodat almal in die dorp kon weet dat die persoon iets baie ernstig verkeerd gedoen het. Wanneer ’n persoon dus ’n kruis moes opneem was dit om as voorbeeld vir die res van die gemeenskap te dien. Dit was ’n boodskap wat mense waarsku dat hulle nie dieselfde pad moes stap as wat hierdie persoon moes nie. Dit was bedoel om mense af te skrik, sodat hulle in lyn bly.

Wanneer iemand sy kruis opgeneem het, was daar geen meer omdraai kans nie. Iemand het nie sy kruis opgeneem en weer terug gekom nie. Indien iemand ’n kruis opgeneem het, het hy ook daaraan gesterf. Die kruis het jou uiteinde, jou toekoms onherroeplik verander. Jesus se bedoeling was dus dat elkeen wat hom volg, deur sy kruis op te neem, sê dat hul toekoms onherroeplik verander was. Jy sou ’n totaal nuwe visie op die lewe kry, wat jou ’n totaal nuwe koers sou laat inslaan.

Die kruis het dus beteken dat, soos Johannes Calvyn sê, ons eie wil, planne en dade ons nie meer oorheers nie. Hy sê verder dat ons doel nie meer dit is wat vir onsself voordelig is nie. Hy sê die kruis maak dat ons aan God behoort, ons lewe dus vir God. God se wysheid en wil moet daarom ons lewe beheer. Bonhoeffer borduur voort op Calvyn wanneer hy beskryf dat die nuwe lewe beteken dat ’n dissipel in elke aspek van die lewe na God as die enigste doel strewe. Om aan God te behoort beteken dus ’n totaal nuwe toekoms, wat ons self nie noodwendig vir ons in gedagte gehad het nie en wat dalk deur die wêreld rondom ons as geen toekoms ingesien word.

Iemand wat moes kruis-dra het ook die res van sy lewe verloor. Indien jy getroud was met kinders en eiendom, sou alles eiendom van die staat geword het. Die bedoeling was dat daardie persoon totaal en al uitgewis sou word. Kruisdood was in elk geval so ’n skandelike gebeurtenis dat niemand met jou of jou nageslag of selfs jou nagedagtenis iets uit te waai wou gehad het nie.

Jesus impliseer dus dat iemand wat hom wou volg volledig eiendom van die saak van God se koninkryk sou word. Jesus kon nie gevolg word in sekere aspekte, maar nie in ander aspekte nie. Jesus moes volledig deel word van ons wêreld. Jesus moes honger en dors word. Jesus moes stofpaaie loop. Jesus moes slaap, al was dit op ’n bankie in ’n boot of dalk in die veld. Jesus se liggaam moes ly, sterf en opstaan. Jesus het dus volledig mens geword om ons in ons volledige menswees te kon loskoop. Geeneen van ons, wat vir Jesus volg behoort net gedeeltelik aan Hom nie. Ons behoort geheel en al aan Hom.

“Wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.”
Jesus belowe tog ’n beloning wanneer Hy sê “Wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red” (v24). Die afskrikmiddel word die aanmoediging. Ds. Johann du Plessis het ’n paar weke verduidelik hoe ons baie maal van ons geloofslewe praat kragtens ’n “commitment” oftewel ’n verbintenis.

Bonhoeffer verduidelik dat ons baie keer kies hoe ons wil kruis-dra. Ons kies om iets te vas vir Lydenstyd. Ons kies om eredienste by te woon of nie. Ons kies die musiek waarvolgens ons vir Jesus wil aanbid. Elke keer maak ons ’n keuse en in die keuse stel ons in ons onderbewuste baie kere voorwaardes vir God. “Here, ek sal gehoorsaam wees tot hiertoe maar nie verder nie.”

Dit slaan deur in ons alledaagse lewe ook. Ons doen moeite om ons besittings te beskerm met diefwering en alarms. Ons betaal baie geld om ons inkomste te beskerm deur groot lewensversekering polisse uit te neem en meeste van ons sit hier en sê dadelik in ons gedagtes dat dit net verantwoordelike bestuur van ons besittings is, sommige sê selfs dis goeie rentmeesterskap – ’n Bybelse beginsel.

Dink egter ook aan die teendeel. Gee ons almal regtig ’n volle tiende van ons inkomste? Nee, nie regtig nie, want ons sê ook Jesus eis dit nie in die Nuwe Testament nie, dis ’n Ou Testament beginsel.

Oor albei sake is jy korrek as jy so dink, maar wat is jou bedoeling daar agter?
Jesus vra van sy dissipels, voor hy Jerusalem toe gaan om koning te word, om wel rewolusionêr te leef, maar nie deur met geweld aan te val nie. Jesus wou hê dat sy dissipels nie hul eie aansien, besittings en verhoudings met hand en tand moes beskerm nie, maar wel vir ander aansien gee, materieel bystaan en hulle liefde in groter mate uitdeel as wat mense sou kon terug gee. Jesus wou hê hulle moet die status quo uitdaag en doen wat onverwags en ondenkbaar was. Dit wat vir mense verkeerd of buite die spoor sou lyk, was eintlik die spoor na die lewe.

God het ons gemaak om in ’n deurlopende verhouding met Hom te leef. Hy het ons ook gemaak om mekaar lief te hê en vir mekaar tot seën te wees. God het ons gemaak om die ware lewe te ontdek wanneer ons uit liefde vir ons naaste ons kruis opneem en hulle te dien soos wat Hy ons dien. Om ons kruis op te neem beteken om nederig te wees. C.S. Lewis skryf: “Humility is not thinking less of yourself, but thinking of yourself less.”
Om ons kruis op te neem beteken nie dat ons aktief gaan soek om swaar te kry en te ly nie, maar om soos Paulus sê mekaar se laste te dra en so volle uitvoering aan die wet te gee. Om ons kruis op te neem beteken dalk dat ons soos Paulus en Bonhoeffer in die tronk moet sit en doodgaan, weens die manier hoe ons Jesus volg.

So terloops, die manier hoe die martelaars in die geskiedenis baie kere met hul onderdrukkers omgegaan het en met ywer hulle kruise en lyding gedra het, was soms ’n groter getuienis van die Heilige Gees se werk as wat hulle preke en argumente was.

Die lewe van die kruis
Maar hoe werk die lewe as ons moet kruis-dra en ons lewens moet prysgee?
Om Jesus na te volg en ons kruis op te neem is vir ons baie moeilik.

Inplaas daarvan dat ons besittings met hand en tand beskerm word dit gereedskap waarmee ons kruis opneem. My kar word ’n manier waarop ek ’n ryloper kan seën. My badkamer word ’n manier waarop ek ’n bergie weer menswaardigheid gee. My tuin word ’n kwekery waaruit die Here die aarde kan herskep by die park, ’n skool of langs die pad. Jesus wil met ons geld en besittings die wêreld versorg, wat deur middel van die onreg in die wêreld onderdruk en vernietig word.

Jesus wil ons aansien en invloed gebruik om regverdigheid te laat geskied. Inplaas van om weg te skram vir kritiek by die werk, staan ons op vir mense onder ons wat misbruik en afgekraak word. Inplaas van om erkenning vir onsself uit te soek, werk ons hard daaraan om erkenning aan ander te gee, maak nie saak hoe klein hulle bydrae. Inplaas van die belange van die maatskappy te beskerm plaas ons die fokus op die belange van die benadeeldes van ons samelewing. Jesus wil deur ons mag en status besluite in die regering en maatskappye en skole se beheerliggame en NGO’s se direksies deurvoer wat sy koninkryk daar sal laat kom.

Jesus wil sy liefde sigbaar maak in ons persoonlike verhoudings. Inplaas daarvan dat ons in ons persoonlike verhoudings liefde uitdeel in die mate wat ons dit ontvang, maak ons ’n punt daarvan om meer te gee as wat ons dink die ander verdien. Ons maak tyd vir elkeen, veral ons huweliksmaats en kinders en inplaas daarvan dat daardie tyd my behoeftes moet bevredig, gebruik ons dit om elkeen se diepste behoeftes te leer ken. Jesus wil deur ons persoonlike verhoudings ’n teelaarde skep waar ons huweliksmaats, ons kinders en hul maatjies, ons vriende en familie, asook die vreemdelinge wat in kontak met hulle kom soveel liefde ontvang dat hulle hul volle menswees kan behaal.

Stilgebed oordenking saam met die skildery van die Egiptiese Christen-martelare.

Fil. 2:5-8
5Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte van God was,
Het nie sy gelykheid aan God beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie,
7maar Hy het Homself prysgegee
Deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem
En aan mense gelyk te word.
En toe hy in die vorm van ’n mens verskyn het,
8het Hy Hom verder verneder
Deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe,
Ja, die dood aan die kruis.

Sunday, March 8, 2015

Padkos - Om saam te eet

Datum:     8 Maart 2015
Erediens:Oggend 1ste diens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:   Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema:   Padkos – Om saam te eet
Teks:     Lukas 15:1-7; Lukas 19:1-10

Kers-ritueel (Blaas drie van die 7 Lydenstyd Kerse dood)

Votum: Psalm 19:8-11
8Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag.
Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig.
9Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart.
Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe.
10Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan.
Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as die fynste goud.
Hulle is soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en ons Here Jesus Christus

Preek
Inleiding
Voor ons bietjie saamdink oor vandag se teks, wil ek vinnig ons geheue verfris oor waarmee ons besig is.

Ons is in die kerklike jaar se Lydenstyd seisoen. Tydens Lydenstyd dink ons in besonder oor Jesus se pad na sy eie lyding aan die kruis en in besonder dat dit eerstens ’n groot opoffering van Hom was om ’n mens te word, maar tweedens dat dit ’n uiterste opoffering was om die straf vir mense se sonde aan die kruis te dra.

Ons kyk spesifiek nou na Lukas se reisverhale oor Jesus. In al hierdie verhale is Jesus fisies op die pad na Jerusalem vir die Pasga-fees, waartydens hy dan ook doodgemaak sou word. Op hierdie pad gebeur daar ’n paar goed waardeur Jesus vir ons in stories en deur sy voorbeeld leer hoe hy wil hê ons hom moet navolg en doen wat hy doen dit.
Ons lees vandag eers ’n storie van wat Jesus doen en daarna ’n storie wat hy vertel om te verduidelik hoekom.

Skriflesing:
Lukas 19:1-10
1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En daar was iemand met die naam Saggeüs; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man. 3Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was. 4Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan. 

5Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeüs gesê: “Saggeüs, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.”
6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. 

7Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!”

8Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” 

9Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is. 10Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.”

Om iemand raak te sien
Hierdie teksgedeelte gaan oor baie dinge, maar ek wil drie hoofgedagtes uitlig. Die eerste is om iemand raak te sien.

Saggeüs was letterlik ’n kort man. Hy moes in ’n boom klim om te sien wat aangaan. Daar is min kommentare wat veel maak van sy liggaamsbou, maar wanneer ons Jesus se manier van doen deurkyk in die Lukas evangelie, dan was Saggeüs se fisiese toestand ’n baie belangrike element in hierdie storie.

Jesus het baie tyd aan randfigure spandeer. Die een groep randfigure was siekes en gestremdes. In die Joodse kultuur van daardie tyd was fisieke gebrek en ernstige siekte ’n teken van God se straf vir die sondes van die vaders. Die wet van Moses het ook sekere gebreke geklassifiseer as onreinheid. So persoon mag nie offers gebring het nie en enige iemand wat aan so persoon sou raak was vir enige iets tussen drie en sewe dae onrein.

Daar is ’n kommentaar-raaiskoot dat Saggeüs nie net kort was nie, maar ’n dwerg was. Dwerg-mense was onder die wat uit die aard van hul gebrek as onrein geklassifiseer was. Saggeüs was daarom een van die mense wat nie welkom was by die sinagoge nie. Die kans was te groot dat hy ander mense sou onrein maak, wat sou maak dat hulle self nie sinagoge toe sou kon gaan nie.

Die ander groep randfigure het mense ingesluit wat weens hul gedrag op die rand van die samelewing gestoot is, soos sondaars, prostitute en tollenaars, wat as skelms geklassifiseer was, asook mense wat hard partytjie deur te veel te eet en drink. Hierdie mense se gedrag het gemaak dat hulle op grond van die wet van Moses onrein was en daarom kon hulle nie saam met die res van die gemeenskap offers bring nie
Saggeüs was ’n hooftollenaar wat ander tollenaars bestuur het en hy was daarom ook gereken as ’n oneerlike man. Uit sy belydenis na sy ontmoeting met Jesus, erken hy ook sy oneerlikheid. Omdat hy oneerlik was, was hy onrein. Omdat hy onrein was, was hy uitgestoot na die rand van die samelewing.

Jesus was gereken as ’n Rabbi, ’n leermeester van Jode. Omdat hy ’n Rabbi was, was hy belangrik en omdat hy belangrik was, was die verwagting groot dat hy rein moes wees. As gevolg hiervan was daar outomaties baie aandag op Jesus, veral wanneer hy tyd met onrein mense spandeer het.

Jesus se doel was nie om raakgesien te word nie, maar om raak te sien. Hy sien nie net die gesiene mense van sy tyd raak nie, maar ook die mense wat geriefshalwe ongesien gelaat is. Daar was ’n dubbele rede dat Jesus nie vir Saggeüs moes raaksien nie, maar dit het vir Jesus eintlik dubbele rede gegee om hom wel raak te sien.

Die Sotho kulture, in die sentrale en noordelike dele van ons land het die mooi gebruik wanneer hulle mense groet. Hulle sê “Dumelang” wat baie letterlik beteken “Ek sien jou.” Om iemand raak te sien beteken dat jy besef dat daardie persoon ’n mens is net soos jy. Om enige iemand raak te sien, erken dat daardie persoon na dieselfde beeld van God geskape is, as jy, selfs al is die persoon gestremd.

Rob Bell gaan vêrder en skryf: “We don’t respect the divine image in others just because we want to uphold their humanity. It isn’t just about them. It’s about us. It’s about our humanity as well.” – Rob Bell, Sex God, p23

Ek weet hier is tussen ons mense wat voel asof hulle nie raakgesien word nie. Ek weet nie wat die verskillende redes daarvoor kan wees nie. Hier is ook mense tussen ons wat nie raakgesien wil wees nie, as gevolg van keuses wat ons gemaak het of goed wat met ons gebeur het wat ons minderwaardig en minder mens laat voel.

Elkeen van julle moet weet, dat jy raakgesien word. Jesus sien jou raak soos hy vir Saggeüs raakgesien het. Jesus se track-record is een wat bewys dat hy juis die mense raaksien wat deur ander mis gekyk word.

Hier is sommige tussen ons wat die idee het dat Jesus ons raaksien as gevolg van ons sonde en ons foute. Toe Jesus vir Saggeüs raaksien in die boom het hy nie ’n woord gesê oor sy foute nie. Jesus sien jou raak as die mens wat God geskep het. Jesus sien jou raak as syne.

Daar is ook ’n klomp van ons wat hier sit en ons besef deeglik dat Jesus ons raaksien. Dit gee vir ons energie en lewenslus en ons floreer op daardie wete. Ons moet egter ook besef dat Jesus wil hê dat ons alle mense moet raaksien soos hy mense raaksien. Ons sê gereeld dat ons Jesus se hande en voete moet wees, maar ons moet netsoveel Jesus se oë wees. Wanneer mense in ons oë kyk moet hulle Jesus se teenwoordigheid, sy liefde en sy genade raaksien. Hulle moet in ons oë kan raaksien dat hulle raakgesien word, maak nie saak wat nie. 

Om saam te eet
Terwyl ons praat van raaksien, moet ons ook besef dat Jesus dinge nog ’n stap verder vat met Saggeüs. Hy is nie net mis gekyk in Jerigo nie; Saggeüs was waarskynlik geïsoleer. Mense het nie na hom toe gekom nie, veral nie gehoorsame Jode nie.

Jesus sien nie net vir Saggeüs raak nie. Jesus klim in sy lewe in, deur vir hom te sê ek wil by jou tuis gaan. Om by iemand te bly beteken om saam met daardie persoon te eet. Jesus het die saameet strategie nie net met Saggeüs gebruik nie, maar met hordes mense.

Saameet kommunikeer iets wat ons nie altyd met woorde sê nie. 

Saameet sê: “Ek sien jou raak.”

Saameet sê: “Jy is belangrik vir my.”

Saameet sê: “Ek gee om vir jou.”

Ons nooi selde mense om saam met ons te eet as ons nie juis hierdie boodskap aan hulle wil oordra nie. Om die waarheid te sê ons eet meestal net saam met mense aan wie ons hierdie boodskap wil bevestig.

Die blog-skrywer, Rachel Stone, skryf oor saameet:
“Having people over for dinner is intimate, more intimate than most restaurant meals ever can be. Maybe that's why we don't do it that much. But maybe, also, that's why we should do it.”

Dis egter ’n probleem om saam te eet. Baie gesinne eet nie eers meer gereeld saam nie. Die effek van saameet is egter drasties. Tieners wat ten minste vier keer ’n week saam met hul hele gesin eet, sonder die T.V. of ander media, openbaar drasties minder antisosiale gedrag soos alkohol- en dwelmmisbruik, buite-egtelike seks en fisiese geweld. Tieners wat saam met hulle gesin eet is ook geneig om beter akademies te presteer, ’n sterk selfbeeld en identiteit te ontwikkel en is daarom ook baie keer meer natuurlike leiers.

Dis omdat saameet nie net jongmense se fisieke behoeftes bevredig nie, maar hul emosionele behoeftes ook. Saameet bou ’n emosionele en geestelike brug wat ons moeilik op ander maniere kan regkry.

Die storie word vertel van Nonnie de la Rey, generaal Koos de la Rey se vrou, wat in die Anglo-Boereoorlog vir generaal Methuen brood gebak het, toe hy met sy Engelse op hulle plaas weggekruip het om genl. De la Rey te probeer vang. Daar is baie wat beweer dat dit gemaak het dat sy ’n goeie verhouding met hom gehad het en dat dit die rede was dat Nonnie de la Rey nooit in ’n konsentrasiekamp beland het nie.

Netso slaan Jesus se saameet met Saggeüs, die brug wat maak dat hy vrywillig sy skelmstreke bely en onderneem om dit wat hy onregmatig by mense gevat het weer terug te gee. Jesus se saameet met Saggeüs het harder gepreek as enige mondelinge preek. Dit het Saggeüs se lewe verander.

Om te onthou
Dit is dan ook belangrik dat ons moet besef dat Jesus ons help om dit wat Hy aan die kruis gedoen het te onthou wanneer ons saam met mekaar eet. Wanneer Jesus die eerste Nagmaal instel, was dit by ’n volle aansit-ete. In Lukas 22:19 sê hy spesifiek: “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Ons lees dan ook dat die eerste Handelinge gemeente en waarskynlik die meeste gemeentes in die vroeë kerk, hul nagmaal viering as deel van ’n ete gedoen het.

Ek wil so vêr gaan as om te sê dat ons die Nagmaal eintlik verkeerd vier. Ons het dit met die blokkie brood en slukkie wyn heeltemal te simbolies gemaak. Jesus het saam met mense geëet om hulle bewus te maak van sy liefde en verlossing. Sy opdrag by die Nagmaal ete was dat elke keer as hulle so saameet en die brood breek en wyn drink hulle sy kruisiging sou herdenk.

Wanneer ons saameet moet ons Jesus en sy offer onthou – ons moet onthou dat Jesus in ons lewens inklim om ons te red. Wanneer ons saam met ander mense eet moet ons onthou dat Jesus ons help om in ander mense se lewens in te klim en hulle te nooi om in ons lewens in te klim. Saameet help ons onthou dat Jesus in ons lewe inklim sodat ons sy verlossing en genade kan ervaar. Saameet help ons onthou dat Jesus ook in ander mense se lewens wil inklim en vir hulle verlossing en genade wil bring.

Wanneer ons saam met ander mense eet, vier ons die feit dat ons elkeen op een of ander slag verlore was, maar weer gevind is. Wanneer ons saameet vier ons saam met Jesus elke ander een wat verlore was en weer gevind is. Wanneer ons saameet vind Jesus baie keer die een wat verlore is deur ons.

Seëngroet:
Vriende, kyk my in die oë en ontvang die seën van die Here:
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking
en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Amen

Sunday, February 22, 2015

Die reis van gebed

Datum:22 Februarie 2015
Erediens:Aanddiens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema: Die Reis van Gebed
Teks:Lukas 11:13; Lukas 18:1-8, 9-14

Keers-ritueel (Blaas een van die 7 Lydenstyd Kerse dood)
Votum: Psalm 25:4-5
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en ons Here Jesus Christus

God hoor ons:
Lofprysing en aanbidding:
Psalm 150
Blessed Be Your Name
Oceans (Where feet may fail)
Ek smag na U

God praat met ons:
Skriflesing: Lukas 18:1-14
1Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid – en nie moed te verloor nie. 2Hy het gesê: “Daar was ’n sekere regter in ’n bepaalde stad wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. 3Daar was ook ’n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 4 ’n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink, ‘Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, 5sal ek omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my nog gedaan maak.’”
6Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê. 7Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
9Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10Twee mense het opgegaan na die tempel om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en so oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg en ook soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien. 13Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar genadig!’
14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar hy wat homself verneder, sal verhoog word.”

Preek:
Inleiding: Soos mense bid, so glo hulle, so lewe hulle.

In die vroeë kerk was daardie gesegde: “Soos mense bid, so glo hulle, so lewe hulle.” Ons sien in hierdie twee stories wat Jesus vertel dat mense se gebed verklap hoe hulle glo en saam met God lewe. Ek het in die laaste paar weke, weer agtergekom dat die manier hoe ons samelewing dink oor gebed en God eintlik skaduwees is van dit wat werklik gebed is en wie God is.

Sowat tien jaar terug het die Amerikaanse sosioloog Christian Smith, ’n uitgebreide langdurige studie gedoen oor wat die gemiddelde Amerikaner glo. Hy noem die manier waarop Amerikaners glo “Moralistic, Therapeutic Deism”. Sy opsomming daarvan was die volgende:
"God created the world."
"God wants people to be good, nice, and fair to each other, as taught in the Bible and most world religions."
"The central goal of life is to be happy and to feel good about oneself."
"God does not need to be particularly involved in one's life except when God is needed to resolve a problem."
"Good people go to heaven when they die."

Die beelde van God wat mense in hul koppe vorm laat God dan lyk soos of ’n ou man met ’n wit baard, wat lank gelede alles gemaak het, maar intussen Alzheimer’s gekry het en van ons vergeet het; of dat God meer soos Aladdin se genie in die lamp is; of dat hy my buddy is wat sorg dat dinge een groot partytjie is. Wanneer ons dan vanuit hierdie beelde in ons koppe bid, lyk ons gebede baie soos die volgende: Skit Guys video

Weet wie God is, weet wie jy is
Ek wil bietjie agteruit werk met ons teks. Die tweede gelykenis wat Jesus vertel, vertel die storie van twee mans. Albei het ’n sekere prentjie van God in hul koppe, wat bepaal hoe hulle hulself, in verhouding met God verstaan.

Die Fariseër het ’n prentjie van God wat basies net mense wat goeddoen seën en mense wat sleg doen straf. Die Fariseërs was bekend daarvoor dat hulle ouens was wat die wet van Moses baie prakties gemaak het en uiters getrou daaraan geleef het. Hulle was oortuig daarvan dat as hulle die wet goed genoeg kon gehoorsaam en hulle die res van die Jode kon oorhaal om dit reg te kry hulle God se guns sou kon wen. Met God se guns sou hulle die Romeine uit Juda kon verdryf en weer die koninkryk van Israel, soos in Dawid se era kon vestig.

Maar let op die inhoud van die gebed: Die Fariseër bid oor homself. EK is dankbaar dat EK nie sleg is nie. EK is ’n goeie mens en daarom moet God na MY luister. Die doelwit van die gebed was nêrens om God te ken of deur God gebruik te word of om God se plan te laat gebeur nie.

Die Fariseër het vir God gesien, soos ons na ’n lekkergoed masjien kyk. Wanneer jy die regte geld ingooi en die regte knoppies druk kry jy wat jy soek. Hy wou vir God betaal met goeie dade en God se knoppie druk met godsdienstige rituele sodat God vir hom kon gee wat hy wou hê. Die Fariseër het homself as die een in beheer gesien en hy kon vir God manipuleer en beheer deur sy gebed.

Die tollenaar aan die ander kant het besef dat God groot, heilig en volmaak is. Die tollenaar was waarskynlik skatryk as gevolg van sy skelmstreke, maar hy het dalk agtergekom dat alles wat hy het nie naastenby genoeg is om te betaal om eers God se aandag te kry nie. In die lig daarvan het die tollenaar waarskynlik besef dat hy, met sy skelmstreke so klein voor God is, dat al manier hoe God enige aandag aan hom sou gee, sou wees as God genade aan hom bewys.

Wat Jesus vir ons wil leer oor gebed is dat wanneer gebed oor “MY” gaan, ek waarskynlik teleurgestel gaan word. Met die “EK” fokus van gebed wil ons handvatsels op God sit, sodat ons hom in ons lewens kan intrek en hy dit waarmee besig is seën. Dit is egter nie waaroor gebed gaan nie.

Wanneer Jesus sy dissipels leer bid, leer hy hulle om te vra vir God se wil en dat sy koninkryk sal kom. Jesus leer sy dissipels dat daar ’n belangriker agenda as hul eie is. God se agenda is die fokus. In die Matteus-weergawe gaan Jesus verder en leer sy dissipels dat wanneer hulle so bid en soek vir God se koninkryk as hul hoogste prioriteit God sal sorg. Hy leer hulle dat wanneer hulle hul eie lewe opgee, ter wille van sy agenda, dan sal hulle die ware lewe ontvang.

Wat ek daar tussen die lyne lees is dat wanneer hulle eie gebedslyste weggooi en vir God vra vir wie Hy is en wat sy wil is ons onsself in ’n ander lig gaan sien. Ons gaan agterkom dat God so groot is dat ons nie sommer ’n handvatsel op hom sal kan kry nie. Ons gaan agterkom dat God se wil, sy begeerte, is om met ons in ’n verhouding te leef. In die verhouding gaan ons agterkom hoe ons sonde en gebrokenheid ons eintlik op ’n plek bring waar ons besef ons geen reg het om na God te kyk in gebed nie en dat ons niks anders kan vra as vir sy genade nie.

Die wonderlike is dat Jesus vir ons wys dat ons vir veel meer kan vra as net genade.  

Moenie ophou nie
In die eerste gelykenis kom Jesus en hy wys vir ons dat al het ons geen reg om met hom te praat nie, mag ons.
Jesus vertel van ’n weduwee wat ’n koning vra om na haar saak te luister en ’n uitspraak te maak teen ’n opponent.

Jesus gebruik skok-taktiek.

Die kulturele gebruik was dat ’n vrou deur haar man na die ouderlinge van die gemeenskap moes gaan as sy ’n saak uitgesorteer wou hê. ’n Weduwee het nie daardie kanaal gehad nie. Dit was sosiaal onaanvaarbaar vir enige vrou om eerstens self haar saak te stel en tweedens om die sosiale rangorde oor te slaan en reguit na die koning toe te gaan. Vir enige vrou om met die koning te praat, sonder dat hy haar vra, kon maak dat daardie vrou voor die voet doodgemaak sou word.

Daar was egter, veral onder die Jode bietjie genade met weduwees, veral as dit mense was wat hulself aan die woord van God gesteur het. ’n Slegte koning sou egter niks gedoen het tensy hy direk daardeur bevoordeel sou word nie. Jesus sê egter dat selfs ’n slegte koning waarskynlik genade met ’n weduwee sal hê en indien dit die geval is, sal God, wat goed is mos genade met enige iemand bewys, veral as hul aanhou vra.

Een van die goed wat Jesus vir sy dissipels wil leer is dat God so positief oor die skepping en sy mense is dat enige mens met enige versoek na Hom toe kan gaan. Die slegte koning het nie lus om na die weduwee te luister nie; hy het nie lus om tyd aan haar af te staan nie; hy het waarskynlik sake wat hoër prioriteit is en meer aandag verdien.

God het verseker sake wat hoër prioriteit geniet as ons gebedsversoeke, maar God se hoogste prioriteit is ’n verhouding met elke mens. God sal met ’n glimlag na ons met ons selfsugtige gebedsversoeke luister as dit beteken dat hy genade aan ons kan bewys en vir ons kan leer dat Hy lief is vir ons.

Jesus vertel egter die storie met belangrike detail, wat ons nie moet miskyk nie. Jesus vertel dat ’n slegte koning reg sal laat geskied, met ander woorde, hy sal die regte ding laat gebeur. Net so sal God na ons gebede luister, maar sodat die regte ding sal gebeur. Wat baie kere vir ons voel soos God wat nie na ons gebede luister nie, is juis God wat ons wil help na “die regte ding” toe.

Baie kere kos dit dat ons met Hom moet stoei en worstel, selfs dat ons moet kerm en kla.

Ek onthou goed, toe ek ’n kind was, het ek en my boetie baie saam met my pa rugby gespeel op ons grasperk of ons het saans lekker gestoei op die mat in die sitkamer. Daai speel en stoei het baie kere in kopstamp geëindig of met ’n grass-burn of wat. Wat egter daar gebeur het, was dat ek goed van my pa leer ken het wat ek nie andersins sou nie. Ek het sy unieke reuk leer ken, ek het sy krag in sy spiere leer ken, ek het besef dat hy baie groter, swaarder en vinniger as ek was. Wanneer een van ons dan seergekry het, het ek ook sy sagtheid leer ken; so sterk as wat hy was, net so versigtig en sag kon hy my vashou en troos. Dieselfde met ons vra en kla. Ek het geleer dat lekkergoed voor ete nie ’n goeie idee is nie, maak nie saak hoe baie ek vra en selfs kla nie. Ek het in daardie proses geleer dat ordentlike kos baie beter vir jou energie vlakke is maar dat iets soet na ete, saam met die gesin gewoonlik een van die lekkerste lekker was en dat dit niks met die suiker uit te waai gehad het nie.

Deur worsteling, soos die gelykenis se weduwee, leer ons kante van God wat ons nie uit Bybeldagboeke, of net een keer ’n week se preek-luister sal leer nie. Om self te worstel leer ons God se heiligheid, sy grootheid en krag, maar ook sy genade, geduld en versorging. Ons leer deur worsteling goed van God wat ons nie eers mooi in woorde kan beskryf nie.

Die belofte
Vir die afsluiting van die boodskap wil ek terugspring na Lukas 11:13. Jesus leer sy dissipels bid, in die woorde van die Onse Vader en hy gaan deur ’n hele beskrywing van soek en klop en vra om te wys dat God gebede sal verhoor. Heel aan die einde sê Hy:
“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader dan die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Een van die moontlike bedoelings van die oorspronklike Grieks van hierdie vers is, dat elkeen wat van God vra, sal die Heilige Gees kry. Met ander woorde, maak nie saak wat jy vir God vra nie, wanneer jy hom aanroep het jy sy volle aandag en sy volle teenwoordigheid deur sy Gees.

Met jou doop het Hy daardie belofte gemaak.

God herinner ons
Nagmaal
Stel Nagmaal in en gebruik dit
Vanaand met die Nagmaal kom herinner Hy ons hieraan en dat dit vas bly staan, maak nie saak watter sonde ons intussen gedoen het nie.

Vriende, die nagmaal moet ons in die eerste plek herinner dat Jesus deur sy kruisdood die straf vir ons sonde gedra het; dat Hy deur sy opstanding die mag van die dood oorwin het en so vir ons die pad oopgemaak het om persoonlik na God te kom in gebed.

Die Nagmaal bevestig vir ons God se belofte dat Hy by ons is, deur sy Gees, dat Hy ons teenwoordigheid opsoek, omdat ons nie self by Hom kan kom nie.

Die Nagmaal versterk ons ook vir die reis saam met Jesus tot sy wederkoms. Dit help ons om moed te hou en vorentoe te kyk, veral in die tye wanneer ons voel asof God ons nie hoor nie, wanneer ons voel of Hy van ons vergeet het of selfs wanneer ons wil opgee in die geloofsreis.

Met die Nagmaal vier ons fees omdat ons weet dat die onreg waaroor ons bid, ons gebrokenheid en die dood nie die laaste woord het nie. Die brood en die wyn herinner ons dat Jesus deur sy liggaam en sy bloed die laaste sê oor alle mag in die hemel en op aarde het.

Vat jou brood, hou dit in jou hand; kyk daarna, ruik daaraan, voel dit.

Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus, neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot volkome versoening vir al ons sondes.

Vat jou kelkie wyn, hou dit in jou hand; kyk daarna, ruik daaraan.

Die wyn wat ons drink is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus, neem dit, drink dit, dink daaraan en glo, dat sy kosbare bloed vergiet is, om vir ons die nuwe lewe in Christus te skenk.

Video: Skit Guys on Prayer pt. 2

This is Amazing Grace (Rustig en aanbiddend)

God stuur ons:
Offergawes
Slotlied:
U’s my God

Seëngroet:

Vriende, kyk my in die oë en ontvang die seën van die Here:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking
en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Amen.

Wednesday, August 27, 2014

Oor Gawes van die Gees

Ek was vandag by, waar 'n spreker "onder leiding van die Gees" met 'n groep kinders gepraat het. Hy het later bely dat hy nie regtig voorbereid was nie. Hy het 'n klomp grepe uit die "Woord" aangehaal met geen verwysing nie. Een van die verskeie onderwerpe wat hy aangeraak het was oor tale en om in 'n geestelike taal te praat.

Die gawe van tale
My eie opsomming van die man se argument is dat tale onontbeerlik is wanneer jy in 'n dieper lewe saam met die Heilige Gees leef. Eers wanneer jy in 'n taal kan bid, kan jy werklik intimiteit met God beleef. Wanneer jy in 'n taal kan bid beweeg jy op so 'n vlak in die geestelike realm dat jy dan kan bid en dinge sal dan gebeur.

Sy motivering uit die "Woord" kom uit 1 Kor. 14:18 "Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal." Sy argument is dat indien Paulus, wat twee derdes van die Nuwe Testament geskryf het, dan tale gebruik, moet almal tale gebruik.

Paulus bring die gebruik van tale in verband met die verskillende gawes wat die Gees aan verskillende mense gee. Wanneer Paulus oor tale as gawe praat, praat hy basies net in 1 Korintiërs 12-14 daaroor. Wanneer hy dit dan bespreek het hy 'n "lae uitkyk" daarop. Paulus hanteer pertinent die gawe van tale as 'n "opsionele" gawe en nooit as iets wat elke gelowige ontvang nie. Om die waarheid te sê, Paulus leer dat geen gawe, behalwe een, aan al die gelowiges gegee word nie.

Die Geskenk van Gawes
Paulus begin sy lering en verduideliking oor die gawes met die gedagte dat dit slegs deur die Gees is dat ons kan bely "Jesus is die Here" en daarom is dit ook slegs deur die Gees se werk en genade dat enige iemand enige iets in die Naam van Jesus kan doen. Dit is ook deur verskillende mense dat verskillende goed gedoen word.

Kyk na 1 Kor. 12:4, 7-11
Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee;

Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil.

Paulus gaan dan verder en verduidelik hoe verskillende gelowiges, elkeen met afsonderlike (uniek selfs!) gawes dan by mekaar pas soos 'n liggaam met baie dele.

Die Gawe van alle Gawes
Paulus sluit 1 Kor. 12 af met die woorde: "Lê julle toe op die beste genadegawes." en begin 1 Kor. 13 met die woorde: "Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword."

Paulus was 'n Jood. Die Joodse wysheid-skrywers het die gebruik gehad om die belangrikste punt van 'n saak in die middel van die argument te sit. In die middel van Paulus se skrywe oor die gawes, skryf hy oor die liefde. Die liefde is dus volgens Paulus die belangrikste gawe.

Ons het almal al soveel preke oor 1 Kor. 13 gehoor. Ons weet almal dat die Griekse agape-liefde hier gebruik word. 'n Dienende liefde wat ander se belange bo jou eie plaas. 'n Liefde in navolging van Christus (Fil. 2:5-9). 'n Liefde wat Jesus as "nuwe gebod" vir sy dissipels gee (Joh. 13:34-35).

Paulus sluit 1 Kor. 13 af met: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Die grootste van alle gawes is daarom die liefde.

Gawes ter wille van diens
Wanneer Paulus dan verder in 1 Kor. 14 oor die gawes praat, is sy argument dat gelowiges eerder moet konsentreer op gawes wat die gemeente dien of opbou.

"As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt" (1 Kor. 14:12).

Dis vir my opvallend dat Paulus nie die gebruik van tale afwys nie, hy moedig dit aan, maar vir persoonlike gebruik. Dit is egter ook opvallend dat Paulus die ander gawes meer aanmoedig, ter wille van diens!

Dit is ook vir my opvallend dat Jesus self nooit oor tale praat in die Evangelies nie. Jesus lê klem op naasteliefde en diens en dit is juis volgens Jesus die merk van mense wat Hom volg en onder beheer van die Gees leef. Die maatstaf wat Paulus gee van 'n lewe in die Gees, wat impliseer dat daar reeds 'n intieme verhouding met God aan die gang is en dat dinge in die geestelike realm in jou eie lewe gebeur is die vrug van die Gees. Gal. 5:22-23, 25:

"Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal."

Opsomming
Om op te som: die gawes van die Gees is alles geskenke uit genade van God. Die hoofdoel van die gawes is om gelowiges te bemagtig en bekragtig om mekaar lief te hê en te dien. Die merk van die Gees se werk in mense se lewe is nie die gawes nie, maar eerder hul gedrag teenoor mense.

Die laaste woord behoort aan Paulus: Rom. 12:6

"Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het."

Laat ons dan die genadegawes gebruik om mekaar lief te hê en te dien.

Saturday, July 19, 2014

Oor Steve en Die Stem

So paar weke gelede gons dit op sosiale media en koerante oor Steve Hofmeyr tydens sy optrede by Innibos Die Stem sing. 'n Wye reeks mense het uiteenlopende kommentaar daarop gelewer, maar min daarvan was, volgens my, goeie kommentaar. Daar was verskeie redes daarvoor en die eerste was dat mense te veel daarin gelees het en afleidings gemaak het, wat ek dink, nie naastenby die bedoeling was nie.

Afleidings en interpretasies
Ek vermoed dat die meeste mense die omstandighede waarin Steve Die Stem gesing het verkeerd geïnterpreteer het.

'n Afrikaanse kunstefees in 'n uithoek van die ou Transvaal. Dit kan maklik aanleiding gee tot baie interpretasies. Ek dink die meeste van Steve se kritici sal nie sommer uit vrye keuse die betrokke fees in die betrokke omgewing bywoon nie (ek inkluis) omdat dit binne 'n stereotipiese Afrikaanse kunstefees kategorie val en letterlik op die rand van Suud-Afrika plaasgevind het. Maar omdat dit in hulle (ons) koppe binne daardie stereotipe lê plak hulle (ek ook) sekere idees daarop wat dit vinnig 'n regse Afrikaner saamtrek maak.

Wat is egter die verskil tussen Innibos, Oppikoppi en die Woordfees? Almal is baie Afrikaans; maak dit dan elkeen van daardie feeste 'n teelaarde vir hunkering na Apartheid Suid-Afrika en Afrikaner dominering? Allermins.

Die mense met die felste kritiek teen Steve en die skare se singery van Die Stem, was nie daar nie. Hulle het nie Steve se hele optrede beleef nie. Hulle het nie die skare se atmosfeer gemeet nie. Hulle weet nie wat Steve vooraf of na afloop van die singery in die openbaar gesê het nie. Hulle het interpretasies gemaak op grond van afleidings en op grond daarvan kritiek oor Steve en die skare gelewer wat hulle dalk nie moes doen nie.

'n Track record
Aan die ander kant kan Steve ook niks minder verwag nie. As 'n mens Steve se uitsprake en "aktivisme" van die laaste paar jaar as konteks gebruik vir sy motiverings, kan die afleidings baie maklik vanself kom, dat Steve hunker na 'n romantiese idee van die vorige bedeling.

Steve het nog nie, wat ek kon hoor, skreiende rassistiese uitsprake in die opnbaar gemaak nie. Sy volksmoord-uitsprake en "aktivisme" wys dat hy geweld en misdaad as 'n swart-teen-wit saak sien. Hy misken die gruwelike geweld wat wit mense teen ander wit mense pleeg, veral mans teenoor hul vrouens (Modimolle-monster as een uiterste voorbeeld). Hy misken dat daar meer moorde in die townships is per 100 mense as wat daar op plase teenoor wit mense is of in voorstede.

Steve wys eintlik dat hy net tussen wit Afrikaanse mense beweeg wat dieselfde as hy na die wêreld kyk en dat hulle persepsie hul enigste werklikheid is. Hul persepsie, wil dit my voorkom, is dat Suid-Afrika beter af was toe 'n wit regering die barbaarse swart terroriste met kommandos, die polisie taakmag en diensplig soldate onder beheer gehou het. Die swart regering is besig om alles te laat gaan. Die swart polisiemag stel nie belang daarin om misdaad te stop nie en Afrikaners moet daarom saamstaan en keer dat almal uitgemoor word. (My persepsie van hulle persepsie.)

Die sprong van Steve wat Die Stem by 'n Afrikaanse kunstefees sing en die gebruik daarvan as 'n emosionele rassistiese simbool is dus nie te moeilik om te maak nie.

Die Stem
Die Stem is in der waarheid 'n Afrikaanse kultuurskat wat toevallig die nasionale volkslied geword het. C.J. Langenhoven het digterlik 'n prentjie van ons land geskets wat jou geestesoog help om in 'n oomblik die mooiste van ons land vas te vang.

Uit die blou van onse hemel
Uit die diepte van ons see
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee

Oor ons ver verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa
Rys die stem van ons geliefde
Van ons land Suid-Afrika

Ons sal antwoord op jou roepstem
Ons sal offer wat jy vra
Ons sal lewe, ons sal sterwe
Ons vir jou Suid-Afrika.

Die sleutel is die laaste reëls. Suid-Afrika met die geweld, korrupsie en gemors roep ons om die verdeeldheid en onreg te oorbrug. Die land smeek na mense wat hulself sal offer ter wille van vrede en voorspoed van elke mens: Afrikaner, Engelse, Zulu, Xhosa, Sotho, Tswana, asook gay, straight, man, vrou, kind en bejaard. Die land smeek dat ons sal lewe met 'n ingesteldheid dat almal waardevol is en dat die mense wat met daardie ingesteldheid gesterf het, hetsy in die Vryheidsoorloë of in die struggle en selfs op die grens se lewens nie verniet uitgestort is nie. Ons vir jou Suid-Afrika verklaar tog dat dit oor veel meer gaan as net een groep se belang maar oor almal wat in die land woon.

As Steve weer Die Stem sing, hoop ek opreg dat hy dit sal sing omdat hy ernstig is oor die lied se oproep en ideaal tot 'n Suid-Afrika vir Suid-Afrika. As ek weer Die Stem sing en hoor mag dit my herinner om my moue op te rol en aktief te stry teen die geweld wat teen boere, vroue, kinders, bejaardes, swart mynwerkers en elke ander mens gepleeg word. Mag dit ons inspireer om ons kultuurskat vrygewig te deel met elkeen en hul skatte van taal, stories en simbole met uiterste respek te hanteer. Mag Die Stem 'n simbool wees wat ons nader aan mekaar trek en 'n verenigde trotse land maak met alle mense wat in opregtheid verklaar "Ons vir jou Suid-Afrka!"

Sunday, August 21, 2011

Oor Bakkies en Behoeftes

Dit tref my so rukkie terug dat mense nie meer kan onderskei tussen behoefte en noodsaaklikheid nie. ’n Behoefte is in die sin ’n “nice-to-have. Dis nie op sigself verkeerd of sleg nie, maar daarsonder sal jou lewe nie tot ’n einde kom nie. ’n Noodsaaklikheid is iets waarsonder ’n mens nie kan lewe nie; ’n gebrek daaraan plaas jou lewe letterlik in gevaar. Dit het my in die eerste plek getref, want ek het, in die tweede plek, ’n behoefte aangesien vir ’n noodsaaklikheid. Laat ek verduidelik.

Ek het ’n paar jaar gelede vir my ’n dubbelkajuit 4x4 bakkie aangeskaf. Toe ek ’n hoërskool seun was, was dit die enigste opsie vir ’n voertuig vir my. As jy nie die bos uit jouself kan uitkry nie, moet jy sorg dat jy die miere in jou klere kalmeer, deur in die bos te kom en dan is die enigste gepaste manier met ’n 4x4 bakkie. Die stasiewa-weergawe van ’n 4x4 was vir mense wat teen randstene wou uitry. As jy rof, grof en onbeskof wou wees, soos dit iemand met swarthaak-bosse inplaas van witbloedselle betaam, moes jy ’n bakkie ry (jy sou net-net aanvaarbaar wees met ’n Land Rover Defender).

My eerste kar was egter ’n “platkar” wat ek by my ma oorgeneem het- so lekker blitsige affêre, wat lekker gewerk het, maar tekorte gehad het. Ongelukkig (gelukkig?) jaag ’n jafel een dag oor ’n rooi verkeerslig en in die blitsige kar se ribbes in, wat hom toe op die skrootwerf laat beland het. Met die versekering geldjies koop ek toe my eerste bakkie… ’n Volkswagen Caddy.

Die Caddy het wel hoër op sy wiele gestaan as die blits, ’n lang bak gehad, maar helaas nog nie ’n 4x4 nie. Mense sou my wel minder skeef aankyk as ek ’n grondpad sou ry met daai bokwa. My beste vriend moes my ook eendag uit ’n modder-put kom uithaal, omdat ek oortuig was dat ek met die 1.8 en 14” voorwiel aangedrewe wa enige plek kon ry waar die 4x4 manne sou kon. Dis mos ’n kwessie van tegniek of hoe? Die bakkie het ook baie funksioneel gewerk. Ek het ’n paar vragte tussen die Kaap en Gauteng in my studente dae karwei en met redelike gemak selfs ’n sleepwa gesleep. Die bakkie het eendag egter sy einde bereik toe hy sonder Elia in vlamme opgegaan het. My pa ontferm hom toe ’n paar maande later oor my en bemaak sy platkar, ’n baie populêre model uit Japan aan my.

Toe ek later van tyd begin werk, was die enigste praktiese ryding ’n bakkie. Vir al die projekte waarmee ek besig was en plekke war ek moes kom, sou net ’n bakkie my kon bring. Daarvoor skaf ek toe ’n Isuzu aan, wat my enkele maande gehou het, voor die my in twee jaar se intensiewe skuld gedompel het weens ’n gekraakte silinderkop.
Om die skade te betaal moes ek toe maar vir my ’n goedkoop, betroubare bakkie kry. Die keuse was daarom ’n Nissan 1400; daai legendariese bakkies wat Suid-Afrika in standgehou het en steeds ’n groot bydrae daarin lewer. Met daai bakkie was ek ook in ’n paar gate in waarin ek seker nie moes nie, maar ek het elke keer daar uitgekom. Ek kon egter nie baie mense in hom laai nie, wat saam met die projekte, toenemend van meer belang was. Ek moes dus begin kyk na ’n dubbel-kajuit. Ekstra sitplekke vir passasiers en ’n bak vir werk.
Ek het toe begin soek en besef dat as ek hard genoeg gaan soek, gaan ek saam met die dubbelkajuit bakkie, dalk nog ’n droom bewaarheid, naamlik ’n 4x4 bakkie. Ek kry toe ’n absolute winskoop. ’n Dubbelkajuit bakkie, met relatief min kilo’s vir sy jare, met 4x4 en ’n paar ander goed wat dit net lekker gemaak het. Werk het daai bakkie nou al gewerk! Mense, goed, projekte, trek, vakansie en nog ’n klomp goed wat jy aan kan dink het daai bakkie nou al gedoen. Hy is baie effektief en bruikbaar, maar hy is ook goed vir daai miere in my klere.

Verlede jaar kry ek ’n geleentheid om ’n Pajero te bestuur vir ’n ver ent met een van my projekte. Ek moes die kar vol kinders laai en ’n sleepwa sleep. Net daar raak ek totaal en al versot en verlief. Al my stereotipes oor 4x4 stasiewaens het daar en dan versplinter in fyn stof en die plannetjies om een te kry, het begin ontkiem.
Nou-die-dag sit ek en administrasie doen, waar ek sien dat my bakkie amper afbetaal is. Die gedagte krap mos op daai oomblik waar dit nie werklik jeuk nie: hoeveel sal ek moet leen om ’n Pajero te koop, indien ek my bakkie sou verkoop? Wat ek weldra uitvind is dat dit nie te veel sal wees nie, maar dat ek nie die bakkie vir sy volle waarde sal kan verkoop soos hy nou staan nie, aangesien daar enkele goedjies is wat bietjie aandag kort. Soos ek die saak oordink besef ek ook die bakkie sien om na al die noodsaaklikhede wat ek aan ’n voertuig het, maar ook ’n paar behoeftes. Al wat ’n Pajero beter sou doen, is om nog ’n paar behoeftes aan te spreek en nie noodwendig meer noodsaaklikhede nie.

Die punt is op die ou end, dat ek myself vir ’n paar oomblikke oortuig het dat ’n behoefte ’n noodsaaklikheid is. Indien ek die behoefte sou bevredig, kon dit dalk ’n paar noodsaaklikhede in gedrang gebring het, deurdat ek nie noodwendig daarvoor geld beskikbaar sou hê nie.

So oortuig talle mense hulself dat behoeftes noodsaaklikhede is. Hulle spandeer dan soveel geld aan die behoefte, dat noodsaaklikhede daaronder begin lei. Is dit nie dalk waar die Amerikaanse en Europese skuldkrisis vandaan kom nie? Ons moet dalk behoeftes op hul plek sit en eers aandag aan noodsaaklikhede gee. So maak ons dalk die wêreld ook ’n beter plek…

Wednesday, August 3, 2011

Boetman I

Boetman I


Een dag, vroeër in hierdie week, ry ek na die plek waar ek baie kere besig is. Ek het die gewoonte om hierdie rit met my bergfiets af te lê en ek doen dit weens verskeie goeie redes (hoewel sommige van my vriende dink dis ’n slegte gewoonte). Een van die goeie redes is omdat dit my help om my kop bietjie in orde kry en bietjie met die Here te gesels oor van die goed wat baie spasie in my kop opneem.
Op hierdie spesifieke mooi wintermôre was dit nou ook die eerste keer in ’n wyle wat ek hierdie rit doen en ek dink toe nou aan die laaste paar weke voor k die rit die laaste keer onderneem het. En daar staan toe nou so paar suur gebeurtenisse vir my uit. Jy weet, daai suur wat jy kry wanneer jy so vet, amperse roes-oranje naartjie, met ’n skil wat sommer in sulke gewillige velle aftrek, skil en die verwagte soet vitamien C-nektar is askorbiensuur wat jou kiewe so trek dat jou mond en jou oë self nie regop kan bly nie. Daai suur wat jou solank laat soek na ’n Rennie as jy weet die asyn oor jou slaptjips gaan chemiese brande in die distrik van jou maagwand laat opvlam. Daai suur kry ek toe, daar op my fiets, op die R304, skuins na 08:00 in die môre, sonder enige suur naby my lippe.
Ek moes paar weke vantevore preek voor my klas. Die tema wat ons toe nou kry, het iets met God en sy herskepping te doen en ek kry Spreuke 8. Dit handel nou oor Vrou Wysheid wat haar verheug in God se skepping, maar meer nog die mensekind wat saam met haar in die skepping van God moet speel. So trek ek nou die lyn daarna dat speel saam met Vrou Wysheid in die skepping beteken dat jy bietjie moet speel met idees oor hoe om meer groen te lewe. So neem ons speel-speel deel aan hoe God die aarde daagliks nuut maak.
Ek raak toe nou ook prakties en dit lyk my is ’n baie dun stukkie ys om op te skaats in die akademiese teologie. Een van my (byna) tien voorbeelde is toe om jou outomatiese wasmasjien se kleinste moontlike verstelling vir die bondel te gebruik. Na die tyd sal die een dosent my mos nou aanvat oor ek die voorbeeld gebruik, want ek neem nou kwansuis nie my konteks in ag nie. Daar mag dalk iemand in die klas sit wat nie ’n outomatiese wasmasjien het nie. Die volk wat toe nou voor my sit is een Duitser, een Amerikaner, 18 wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, een kleurling en een Xhosa broeder. Nou sê vir my, wie bedoel meneer professor nou was nie klere met ’n masjien nie? (Hy het natuurlik gedink hy is oulik en vryf ons Xhosa-broeder se agterwêreld blink.) Eerstens was die eersgenoemde 21 definitief almal met ’n outomatiese wasmasjien, al is dit een wat eers ’n paar R5’de insluk voor hy met ’n gerammel en gedans jou kleertjies skoon skud. Indien ons Xhosa-broeder sy wasgoed met die hand was, was hy dit verseker nie met Sunlight, Omo of Surf nie, want daai lot seep het almal so kenmerkende geur wat amper geen versagter kan verbloem nie en ons Xhosa-broeder se klere het nog nooit daarna geruik as ek langs hom gaan sit het nie. So eintlik het Proffie vir ons Xhosa-broeder gesê: “Jy is arm, agterlik en was nie jou klere nie.” Rassis, as jy my vra. Selfs al het hy sy klere met die hand gewas, was daai voorbeeld in die konteks van die meerderheid van die klas gepas.
Waaroor ek toe nou so suur was, was die feit dat hierdie geleerde proffie met sy opmerking toe nou waag om vir my ’n veel swakker punt as ’n groot persentasie van my kollegas te gee. As ek nou ’n klomp wol gepraat het, was hy welkom, maar nou was een van die ander proffies se opmerking juis dat ek amper die enigste ou in die klas was wat by die tema gehou het. Suur, suur, suur…
My preek het ook juis gehandel oor hoe ek nou in die skepping van God rondspeel deur bietjie fiets te ry. Een van die redes hiervoor is dat ek die voëls langs die pad bietjie kan dice, maar meer eintlik om petrol te spaar, vir my beursie en my koolstof skoen.
Hierdie mooi oggend merk ek toe nou juis op hoeveel mense enkel en alleen in hul karre daar op die R304 sit. Na ’n tyd het ek al die jaagduiwels wat verby my geskreeu het weer ingehaal. Toe raak ek kwaad, want ’n klomp van daai mense sit in hul motors want hulle hou te veel van gemak. Dis daai kalante wat eerste kla oor die brandstof wat deesdae so duur is. Dis ook dieselfde kalante wat kla oor hulle so vet raak en nie tyd het vir oefen nie. Dis vir hulle wat ek sou voorstel, gryp jou fiets, maar dis hulle wat elke dom verskoning in die boek sal uithaal om eerder met hul karretjie te ry en almal nander die skuld daarvoor te gee.
Toe trek my kiewe weer so op in my kake. Dis dieselfde moeilikheid met die politiek. Die swartes sê dis Apartheid se skuld dat die land lyk soos hy lyk, terwyl ander weer sê dis ons huidige regering se skuld. Niemand is bereid om op te staan en te sê: “Hier waar ek nou is, gaan ek moeite aan ons land doen.” nie. Maar dit word dalk nou die volgende storie…