Sunday, March 8, 2015

Padkos - Om saam te eet

Datum:     8 Maart 2015
Erediens:Oggend 1ste diens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:   Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema:   Padkos – Om saam te eet
Teks:     Lukas 15:1-7; Lukas 19:1-10

Kers-ritueel (Blaas drie van die 7 Lydenstyd Kerse dood)

Votum: Psalm 19:8-11
8Die Here se voorskrifte is volkome, dit gee nuwe lewenskrag.
Die bepalings van die Here is betroubaar; dit maak die eenvoudige verstandig.
9Die Here se bevele is reg, dit bring vreugde vir die hart.
Die opdragte van die Here is duidelik; dit gee insig vir die lewe.
10Die gebooie van die Here is suiwer, dit bly vir altyd staan.
Die Here se voorskrifte is reg; elkeen van hulle is regverdig.
11Hulle is kosbaarder as goud, selfs as die fynste goud.
Hulle is soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en ons Here Jesus Christus

Preek
Inleiding
Voor ons bietjie saamdink oor vandag se teks, wil ek vinnig ons geheue verfris oor waarmee ons besig is.

Ons is in die kerklike jaar se Lydenstyd seisoen. Tydens Lydenstyd dink ons in besonder oor Jesus se pad na sy eie lyding aan die kruis en in besonder dat dit eerstens ’n groot opoffering van Hom was om ’n mens te word, maar tweedens dat dit ’n uiterste opoffering was om die straf vir mense se sonde aan die kruis te dra.

Ons kyk spesifiek nou na Lukas se reisverhale oor Jesus. In al hierdie verhale is Jesus fisies op die pad na Jerusalem vir die Pasga-fees, waartydens hy dan ook doodgemaak sou word. Op hierdie pad gebeur daar ’n paar goed waardeur Jesus vir ons in stories en deur sy voorbeeld leer hoe hy wil hê ons hom moet navolg en doen wat hy doen dit.
Ons lees vandag eers ’n storie van wat Jesus doen en daarna ’n storie wat hy vertel om te verduidelik hoekom.

Skriflesing:
Lukas 19:1-10
1Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. 2En daar was iemand met die naam Saggeüs; hy was ’n hooftollenaar en ’n ryk man. 3Hy het sy bes probeer om te sien wie Jesus is, maar hy kon nie vanweë die skare en omdat hy kort was. 4Hy het vooruit gehardloop om voor te kom en in ’n vyeboom geklim om Jesus te sien omdat Hy daar sou verbygaan. 

5Toe Jesus by dié bepaalde plek kom, het Hy opgekyk in die boom en vir Saggeüs gesê: “Saggeüs, klim haastig af, want Ek moet nog vandag by jou tuisgaan.”
6Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang. 

7Almal wat dit gesien het, het geprotesteer en gesê: “Hy het jou werklik tuisgegaan by ’n sondige man!”

8Saggeus het egter openlik gereageer en vir die Here gesê: “Here, ek gaan die helfte van my besittings aan die armes gee, en as ek iets van iemand met ’n slenter bekom het, gee ek dit vierdubbel terug.” 

9Jesus sê toe vir hom: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom, omdat ook hierdie man ’n seun van Abraham is. 10Ek, die Seun van die Mens, het immers gekom om wat verlore is, te soek en te red.”

Om iemand raak te sien
Hierdie teksgedeelte gaan oor baie dinge, maar ek wil drie hoofgedagtes uitlig. Die eerste is om iemand raak te sien.

Saggeüs was letterlik ’n kort man. Hy moes in ’n boom klim om te sien wat aangaan. Daar is min kommentare wat veel maak van sy liggaamsbou, maar wanneer ons Jesus se manier van doen deurkyk in die Lukas evangelie, dan was Saggeüs se fisiese toestand ’n baie belangrike element in hierdie storie.

Jesus het baie tyd aan randfigure spandeer. Die een groep randfigure was siekes en gestremdes. In die Joodse kultuur van daardie tyd was fisieke gebrek en ernstige siekte ’n teken van God se straf vir die sondes van die vaders. Die wet van Moses het ook sekere gebreke geklassifiseer as onreinheid. So persoon mag nie offers gebring het nie en enige iemand wat aan so persoon sou raak was vir enige iets tussen drie en sewe dae onrein.

Daar is ’n kommentaar-raaiskoot dat Saggeüs nie net kort was nie, maar ’n dwerg was. Dwerg-mense was onder die wat uit die aard van hul gebrek as onrein geklassifiseer was. Saggeüs was daarom een van die mense wat nie welkom was by die sinagoge nie. Die kans was te groot dat hy ander mense sou onrein maak, wat sou maak dat hulle self nie sinagoge toe sou kon gaan nie.

Die ander groep randfigure het mense ingesluit wat weens hul gedrag op die rand van die samelewing gestoot is, soos sondaars, prostitute en tollenaars, wat as skelms geklassifiseer was, asook mense wat hard partytjie deur te veel te eet en drink. Hierdie mense se gedrag het gemaak dat hulle op grond van die wet van Moses onrein was en daarom kon hulle nie saam met die res van die gemeenskap offers bring nie
Saggeüs was ’n hooftollenaar wat ander tollenaars bestuur het en hy was daarom ook gereken as ’n oneerlike man. Uit sy belydenis na sy ontmoeting met Jesus, erken hy ook sy oneerlikheid. Omdat hy oneerlik was, was hy onrein. Omdat hy onrein was, was hy uitgestoot na die rand van die samelewing.

Jesus was gereken as ’n Rabbi, ’n leermeester van Jode. Omdat hy ’n Rabbi was, was hy belangrik en omdat hy belangrik was, was die verwagting groot dat hy rein moes wees. As gevolg hiervan was daar outomaties baie aandag op Jesus, veral wanneer hy tyd met onrein mense spandeer het.

Jesus se doel was nie om raakgesien te word nie, maar om raak te sien. Hy sien nie net die gesiene mense van sy tyd raak nie, maar ook die mense wat geriefshalwe ongesien gelaat is. Daar was ’n dubbele rede dat Jesus nie vir Saggeüs moes raaksien nie, maar dit het vir Jesus eintlik dubbele rede gegee om hom wel raak te sien.

Die Sotho kulture, in die sentrale en noordelike dele van ons land het die mooi gebruik wanneer hulle mense groet. Hulle sê “Dumelang” wat baie letterlik beteken “Ek sien jou.” Om iemand raak te sien beteken dat jy besef dat daardie persoon ’n mens is net soos jy. Om enige iemand raak te sien, erken dat daardie persoon na dieselfde beeld van God geskape is, as jy, selfs al is die persoon gestremd.

Rob Bell gaan vêrder en skryf: “We don’t respect the divine image in others just because we want to uphold their humanity. It isn’t just about them. It’s about us. It’s about our humanity as well.” – Rob Bell, Sex God, p23

Ek weet hier is tussen ons mense wat voel asof hulle nie raakgesien word nie. Ek weet nie wat die verskillende redes daarvoor kan wees nie. Hier is ook mense tussen ons wat nie raakgesien wil wees nie, as gevolg van keuses wat ons gemaak het of goed wat met ons gebeur het wat ons minderwaardig en minder mens laat voel.

Elkeen van julle moet weet, dat jy raakgesien word. Jesus sien jou raak soos hy vir Saggeüs raakgesien het. Jesus se track-record is een wat bewys dat hy juis die mense raaksien wat deur ander mis gekyk word.

Hier is sommige tussen ons wat die idee het dat Jesus ons raaksien as gevolg van ons sonde en ons foute. Toe Jesus vir Saggeüs raaksien in die boom het hy nie ’n woord gesê oor sy foute nie. Jesus sien jou raak as die mens wat God geskep het. Jesus sien jou raak as syne.

Daar is ook ’n klomp van ons wat hier sit en ons besef deeglik dat Jesus ons raaksien. Dit gee vir ons energie en lewenslus en ons floreer op daardie wete. Ons moet egter ook besef dat Jesus wil hê dat ons alle mense moet raaksien soos hy mense raaksien. Ons sê gereeld dat ons Jesus se hande en voete moet wees, maar ons moet netsoveel Jesus se oë wees. Wanneer mense in ons oë kyk moet hulle Jesus se teenwoordigheid, sy liefde en sy genade raaksien. Hulle moet in ons oë kan raaksien dat hulle raakgesien word, maak nie saak wat nie. 

Om saam te eet
Terwyl ons praat van raaksien, moet ons ook besef dat Jesus dinge nog ’n stap verder vat met Saggeüs. Hy is nie net mis gekyk in Jerigo nie; Saggeüs was waarskynlik geïsoleer. Mense het nie na hom toe gekom nie, veral nie gehoorsame Jode nie.

Jesus sien nie net vir Saggeüs raak nie. Jesus klim in sy lewe in, deur vir hom te sê ek wil by jou tuis gaan. Om by iemand te bly beteken om saam met daardie persoon te eet. Jesus het die saameet strategie nie net met Saggeüs gebruik nie, maar met hordes mense.

Saameet kommunikeer iets wat ons nie altyd met woorde sê nie. 

Saameet sê: “Ek sien jou raak.”

Saameet sê: “Jy is belangrik vir my.”

Saameet sê: “Ek gee om vir jou.”

Ons nooi selde mense om saam met ons te eet as ons nie juis hierdie boodskap aan hulle wil oordra nie. Om die waarheid te sê ons eet meestal net saam met mense aan wie ons hierdie boodskap wil bevestig.

Die blog-skrywer, Rachel Stone, skryf oor saameet:
“Having people over for dinner is intimate, more intimate than most restaurant meals ever can be. Maybe that's why we don't do it that much. But maybe, also, that's why we should do it.”

Dis egter ’n probleem om saam te eet. Baie gesinne eet nie eers meer gereeld saam nie. Die effek van saameet is egter drasties. Tieners wat ten minste vier keer ’n week saam met hul hele gesin eet, sonder die T.V. of ander media, openbaar drasties minder antisosiale gedrag soos alkohol- en dwelmmisbruik, buite-egtelike seks en fisiese geweld. Tieners wat saam met hulle gesin eet is ook geneig om beter akademies te presteer, ’n sterk selfbeeld en identiteit te ontwikkel en is daarom ook baie keer meer natuurlike leiers.

Dis omdat saameet nie net jongmense se fisieke behoeftes bevredig nie, maar hul emosionele behoeftes ook. Saameet bou ’n emosionele en geestelike brug wat ons moeilik op ander maniere kan regkry.

Die storie word vertel van Nonnie de la Rey, generaal Koos de la Rey se vrou, wat in die Anglo-Boereoorlog vir generaal Methuen brood gebak het, toe hy met sy Engelse op hulle plaas weggekruip het om genl. De la Rey te probeer vang. Daar is baie wat beweer dat dit gemaak het dat sy ’n goeie verhouding met hom gehad het en dat dit die rede was dat Nonnie de la Rey nooit in ’n konsentrasiekamp beland het nie.

Netso slaan Jesus se saameet met Saggeüs, die brug wat maak dat hy vrywillig sy skelmstreke bely en onderneem om dit wat hy onregmatig by mense gevat het weer terug te gee. Jesus se saameet met Saggeüs het harder gepreek as enige mondelinge preek. Dit het Saggeüs se lewe verander.

Om te onthou
Dit is dan ook belangrik dat ons moet besef dat Jesus ons help om dit wat Hy aan die kruis gedoen het te onthou wanneer ons saam met mekaar eet. Wanneer Jesus die eerste Nagmaal instel, was dit by ’n volle aansit-ete. In Lukas 22:19 sê hy spesifiek: “Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Ons lees dan ook dat die eerste Handelinge gemeente en waarskynlik die meeste gemeentes in die vroeë kerk, hul nagmaal viering as deel van ’n ete gedoen het.

Ek wil so vêr gaan as om te sê dat ons die Nagmaal eintlik verkeerd vier. Ons het dit met die blokkie brood en slukkie wyn heeltemal te simbolies gemaak. Jesus het saam met mense geëet om hulle bewus te maak van sy liefde en verlossing. Sy opdrag by die Nagmaal ete was dat elke keer as hulle so saameet en die brood breek en wyn drink hulle sy kruisiging sou herdenk.

Wanneer ons saameet moet ons Jesus en sy offer onthou – ons moet onthou dat Jesus in ons lewens inklim om ons te red. Wanneer ons saam met ander mense eet moet ons onthou dat Jesus ons help om in ander mense se lewens in te klim en hulle te nooi om in ons lewens in te klim. Saameet help ons onthou dat Jesus in ons lewe inklim sodat ons sy verlossing en genade kan ervaar. Saameet help ons onthou dat Jesus ook in ander mense se lewens wil inklim en vir hulle verlossing en genade wil bring.

Wanneer ons saam met ander mense eet, vier ons die feit dat ons elkeen op een of ander slag verlore was, maar weer gevind is. Wanneer ons saameet vier ons saam met Jesus elke ander een wat verlore was en weer gevind is. Wanneer ons saameet vind Jesus baie keer die een wat verlore is deur ons.

Seëngroet:
Vriende, kyk my in die oë en ontvang die seën van die Here:
Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking
en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Amen

No comments:

Post a Comment