Sunday, March 29, 2015

Die pad van lyding

Datum:29 Maart 2015
Erediens:Oggend 1ste diens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema: Die pad van Lyding
Teks:Lukas 9:23-27

Votum: Psalm 118:24, 1-4
24Dit is die dag wat die Here tot stand gebring het;
Laat ons juig en ons in Hom verheug!
1Loof die Here, want Hy is goed
Vir ewig duur sy troue liefde!
2Laat Israel sê:
Vir ewig duur sy trou liefde
3Laat die huis van Aaron sê:
Vir ewig duur sy troue liefde
4Laat die wat vir die Here ontsag het sê:
Vir ewig duur sy troue liefde!

Preek:
Inleiding:
In die kerkjaar word vandag as Palmsondag gevier. Die idee met Palmsondag kom van die verhaal van Jesus se intog in Jerusalem, so ongeveer die week voor die Paasfees, toe hy gekruisig is. Dis die storie van Jesus op ’n geleende donkie, wat in Jerusalem inry, met die mense wat palmtakke swaai, hul klere in die pad voor hom uitgooi en hom soos ’n koning in Jerusalem verwelkom.
Mense het ’n verwagting van Jesus gehad, die verwagting dat hy die Messias, die Christus, die spesiaal geseënde van God sou wees, wat ’n rewolusie sou lei, Herodes en die Romeine sou wegjaag en sou koning word, soos Dawid van ouds. Jesus sou wel koning word ’n week later, maar anders as wat die mense gedink het.

Jesus het Jerusalem toe gekom om sy koningskap te kom opneem. Hy het gekom om gekroon te word met ’n doringkroon. Hy het gekom om sy koningskap gewelddadig op te eis, deur al die geweld op homself te neem. Hy het gekom om op die troon te sit, maar die troon was in die vorm van ’n kruis.
Hierdie prentjie van God se koning oor Israel het nie in mense se koppe gewerk nie en daarom het ’n klomp mense, sy dissipels ingesluit hom gelos daarom alleen te doen. Die ironie daarvan alles is dat Jesus dit sien kom het en sy dissipels daaroor gewaarsku het. Jesus het ook nog verder gegaan en vir sy dissipels gesê dat hulle ook so moet wees, indien hulle hom werklik wil volg.

Skriflesing:
Lukas 9:18-27

“As iemand my wil navolg”
Iemand wat ’n groot rabbi nagevolg het, is daardie rabbi se dissipel genoem. ’n Dissipel van daardie tyd moes aansoek doen by ’n rabbi. ’n Dissipel moes ’n uitmuntende student wees, wat die hele Ou Testament, van Genesis tot Maleagi woord-vir-woord moes ken.

Jesus draai die stelsel op sy kop. Hy stap eendag op die strand af en nooi ’n klomp jong manne om hom te volg; manne wat dit nie kon regkry om die Ou Testament so te ken nie en sommerso sonder ’n onderhoud. Dáárby nooi hy later ook ouens, soos die tollenaar Matteus.

Die manier waarop mense van die antieke wêreld dissipelskap verstaan het, was om te doen wat jou meester doen. Dit was nie net professioneel van aard nie; dit het oor ’n hele leefstyl gegaan. ’n Dissipel sou die meester oral volg en letterlik leer om alles te doen wat die meester doen. ’n Dissipel wou praat soos sy meester, loop soos sy meester, eet soos sy meester, in alles wees soos sy meester.

Dit het beteken dat Jesus se dissipels by hom sou leer hoe om te leef. Jesus het deur dissipels bymekaar te maak die definisie van gehoorsaamheid verander. Die manier hoe die mense met die Ou Testament gewerk het, was om beginsels uit te werk wat mense dan moes gehoorsaam. Dit het baie vinnig ontaard sodat mense mekaar kon klassifiseer as reg of verkeerd, goed of sleg, in of uit. Om egter ’n dissipels van die lewende God te wees, sou beteken dat daardie manier van doen nie sou werk nie. ’n Dissipel moes maak soos sy leermeester maak. ’n Dissipel van Jesus moes maak soos Jesus maak.

Dit het beteken dat jy een oomblik in die tempel sou staan en sorg dat iemand wat onder die wet doodgemaak moes word, uit steniging uit kon praat; maar in dieselfde tempel mense wat in diens van die offers sake gedoen het, met geweld uit die tempel kon jaag. Om Jesus se dissipel te wees het beteken dat jy sou leer dat jy nie ’n wet kon hê vir alles nie, dat jy aan die persoon van Jesus moes gehoorsaam wees en dat jy soms moes doen wat op die oog af verkeerd of sleg lyk, sodat jy dit kon doen wat eintlik reg of goed is. Dit kan jy net leer as jy elke dag saam met Jesus leef en elke dag by hom leer om soos hy te leef.

Jesus was besig om sy navolgers ’n nuwe manier van lewe te leer. Die standaard wat Jesus vir sy dissipels stel egter baie hoër as dit wat ander rabbi’s vir hulle dissipels gehad het.

“Moet hy homself verloën en elke dag sy kruis opneem en my volg.”
Jesus het baie goed geweet dat die pad na Jerusalem sy fisieke dood sou beteken. Hy moes gaan ly onder die groeperings wat veronderstel was om God se wil vir die Jode sigbaar te maak. Die familiehoofde moes God se regverdige mag oor sy mense uitoefen. Die Skrifgeleerdes moes aan die volk die rykdom van God se woord leer. Die Priesterhoofde moes hulle lei in ’n intieme verhouding met God deur lof, aanbidding en die offers. Al die magte wat struikelblokke in die pad van God se liefde vir sy aarde geword het, was verteenwoordig in die mense wat Jesus noem.

Jesus kondig egter reeds sy oorwinning in die teks aan. Op die derde dag sou Hy weer opstaan uit die dood, sodat die magte wat Hom wou oorweldig oorwin kon word. Ons wat na Jesus se opstanding leef weet hy was getrou aan hierdie belofte. Daarom kan Jesus vir sy dissipels sê (v23): “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg...” Die fisiese dood aan die kruis het nie die laaste sê nie.

Dietrich Bonhoeffer, ’n Duitse martelaar in die Tweede Wêreldoorlog, skryf in sy boek The cost of Discipleship oor hierdie teksgedeelte: “When Jesus calls a person, he bids him come and die.”

Wanneer iemand in die Romeinse tyd gekruisig was, was dit die swaarste straf wat op daardie persoon gelê kon word. So persoon moes sy kruis deur die strate van die dorp dra, sodat almal in die dorp kon weet dat die persoon iets baie ernstig verkeerd gedoen het. Wanneer ’n persoon dus ’n kruis moes opneem was dit om as voorbeeld vir die res van die gemeenskap te dien. Dit was ’n boodskap wat mense waarsku dat hulle nie dieselfde pad moes stap as wat hierdie persoon moes nie. Dit was bedoel om mense af te skrik, sodat hulle in lyn bly.

Wanneer iemand sy kruis opgeneem het, was daar geen meer omdraai kans nie. Iemand het nie sy kruis opgeneem en weer terug gekom nie. Indien iemand ’n kruis opgeneem het, het hy ook daaraan gesterf. Die kruis het jou uiteinde, jou toekoms onherroeplik verander. Jesus se bedoeling was dus dat elkeen wat hom volg, deur sy kruis op te neem, sê dat hul toekoms onherroeplik verander was. Jy sou ’n totaal nuwe visie op die lewe kry, wat jou ’n totaal nuwe koers sou laat inslaan.

Die kruis het dus beteken dat, soos Johannes Calvyn sê, ons eie wil, planne en dade ons nie meer oorheers nie. Hy sê verder dat ons doel nie meer dit is wat vir onsself voordelig is nie. Hy sê die kruis maak dat ons aan God behoort, ons lewe dus vir God. God se wysheid en wil moet daarom ons lewe beheer. Bonhoeffer borduur voort op Calvyn wanneer hy beskryf dat die nuwe lewe beteken dat ’n dissipel in elke aspek van die lewe na God as die enigste doel strewe. Om aan God te behoort beteken dus ’n totaal nuwe toekoms, wat ons self nie noodwendig vir ons in gedagte gehad het nie en wat dalk deur die wêreld rondom ons as geen toekoms ingesien word.

Iemand wat moes kruis-dra het ook die res van sy lewe verloor. Indien jy getroud was met kinders en eiendom, sou alles eiendom van die staat geword het. Die bedoeling was dat daardie persoon totaal en al uitgewis sou word. Kruisdood was in elk geval so ’n skandelike gebeurtenis dat niemand met jou of jou nageslag of selfs jou nagedagtenis iets uit te waai wou gehad het nie.

Jesus impliseer dus dat iemand wat hom wou volg volledig eiendom van die saak van God se koninkryk sou word. Jesus kon nie gevolg word in sekere aspekte, maar nie in ander aspekte nie. Jesus moes volledig deel word van ons wêreld. Jesus moes honger en dors word. Jesus moes stofpaaie loop. Jesus moes slaap, al was dit op ’n bankie in ’n boot of dalk in die veld. Jesus se liggaam moes ly, sterf en opstaan. Jesus het dus volledig mens geword om ons in ons volledige menswees te kon loskoop. Geeneen van ons, wat vir Jesus volg behoort net gedeeltelik aan Hom nie. Ons behoort geheel en al aan Hom.

“Wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red.”
Jesus belowe tog ’n beloning wanneer Hy sê “Wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red” (v24). Die afskrikmiddel word die aanmoediging. Ds. Johann du Plessis het ’n paar weke verduidelik hoe ons baie maal van ons geloofslewe praat kragtens ’n “commitment” oftewel ’n verbintenis.

Bonhoeffer verduidelik dat ons baie keer kies hoe ons wil kruis-dra. Ons kies om iets te vas vir Lydenstyd. Ons kies om eredienste by te woon of nie. Ons kies die musiek waarvolgens ons vir Jesus wil aanbid. Elke keer maak ons ’n keuse en in die keuse stel ons in ons onderbewuste baie kere voorwaardes vir God. “Here, ek sal gehoorsaam wees tot hiertoe maar nie verder nie.”

Dit slaan deur in ons alledaagse lewe ook. Ons doen moeite om ons besittings te beskerm met diefwering en alarms. Ons betaal baie geld om ons inkomste te beskerm deur groot lewensversekering polisse uit te neem en meeste van ons sit hier en sê dadelik in ons gedagtes dat dit net verantwoordelike bestuur van ons besittings is, sommige sê selfs dis goeie rentmeesterskap – ’n Bybelse beginsel.

Dink egter ook aan die teendeel. Gee ons almal regtig ’n volle tiende van ons inkomste? Nee, nie regtig nie, want ons sê ook Jesus eis dit nie in die Nuwe Testament nie, dis ’n Ou Testament beginsel.

Oor albei sake is jy korrek as jy so dink, maar wat is jou bedoeling daar agter?
Jesus vra van sy dissipels, voor hy Jerusalem toe gaan om koning te word, om wel rewolusionêr te leef, maar nie deur met geweld aan te val nie. Jesus wou hê dat sy dissipels nie hul eie aansien, besittings en verhoudings met hand en tand moes beskerm nie, maar wel vir ander aansien gee, materieel bystaan en hulle liefde in groter mate uitdeel as wat mense sou kon terug gee. Jesus wou hê hulle moet die status quo uitdaag en doen wat onverwags en ondenkbaar was. Dit wat vir mense verkeerd of buite die spoor sou lyk, was eintlik die spoor na die lewe.

God het ons gemaak om in ’n deurlopende verhouding met Hom te leef. Hy het ons ook gemaak om mekaar lief te hê en vir mekaar tot seën te wees. God het ons gemaak om die ware lewe te ontdek wanneer ons uit liefde vir ons naaste ons kruis opneem en hulle te dien soos wat Hy ons dien. Om ons kruis op te neem beteken om nederig te wees. C.S. Lewis skryf: “Humility is not thinking less of yourself, but thinking of yourself less.”
Om ons kruis op te neem beteken nie dat ons aktief gaan soek om swaar te kry en te ly nie, maar om soos Paulus sê mekaar se laste te dra en so volle uitvoering aan die wet te gee. Om ons kruis op te neem beteken dalk dat ons soos Paulus en Bonhoeffer in die tronk moet sit en doodgaan, weens die manier hoe ons Jesus volg.

So terloops, die manier hoe die martelaars in die geskiedenis baie kere met hul onderdrukkers omgegaan het en met ywer hulle kruise en lyding gedra het, was soms ’n groter getuienis van die Heilige Gees se werk as wat hulle preke en argumente was.

Die lewe van die kruis
Maar hoe werk die lewe as ons moet kruis-dra en ons lewens moet prysgee?
Om Jesus na te volg en ons kruis op te neem is vir ons baie moeilik.

Inplaas daarvan dat ons besittings met hand en tand beskerm word dit gereedskap waarmee ons kruis opneem. My kar word ’n manier waarop ek ’n ryloper kan seën. My badkamer word ’n manier waarop ek ’n bergie weer menswaardigheid gee. My tuin word ’n kwekery waaruit die Here die aarde kan herskep by die park, ’n skool of langs die pad. Jesus wil met ons geld en besittings die wêreld versorg, wat deur middel van die onreg in die wêreld onderdruk en vernietig word.

Jesus wil ons aansien en invloed gebruik om regverdigheid te laat geskied. Inplaas van om weg te skram vir kritiek by die werk, staan ons op vir mense onder ons wat misbruik en afgekraak word. Inplaas van om erkenning vir onsself uit te soek, werk ons hard daaraan om erkenning aan ander te gee, maak nie saak hoe klein hulle bydrae. Inplaas van die belange van die maatskappy te beskerm plaas ons die fokus op die belange van die benadeeldes van ons samelewing. Jesus wil deur ons mag en status besluite in die regering en maatskappye en skole se beheerliggame en NGO’s se direksies deurvoer wat sy koninkryk daar sal laat kom.

Jesus wil sy liefde sigbaar maak in ons persoonlike verhoudings. Inplaas daarvan dat ons in ons persoonlike verhoudings liefde uitdeel in die mate wat ons dit ontvang, maak ons ’n punt daarvan om meer te gee as wat ons dink die ander verdien. Ons maak tyd vir elkeen, veral ons huweliksmaats en kinders en inplaas daarvan dat daardie tyd my behoeftes moet bevredig, gebruik ons dit om elkeen se diepste behoeftes te leer ken. Jesus wil deur ons persoonlike verhoudings ’n teelaarde skep waar ons huweliksmaats, ons kinders en hul maatjies, ons vriende en familie, asook die vreemdelinge wat in kontak met hulle kom soveel liefde ontvang dat hulle hul volle menswees kan behaal.

Stilgebed oordenking saam met die skildery van die Egiptiese Christen-martelare.

Fil. 2:5-8
5Julle moet dieselfde gesindheid onder mekaar openbaar as wat in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte van God was,
Het nie sy gelykheid aan God beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie,
7maar Hy het Homself prysgegee
Deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem
En aan mense gelyk te word.
En toe hy in die vorm van ’n mens verskyn het,
8het Hy Hom verder verneder
Deurdat Hy gehoorsaam geword het tot die dood toe,
Ja, die dood aan die kruis.

No comments:

Post a Comment