Sunday, April 19, 2015

Offers en gehoorsaamheid

Datum:    19 April 2015
Erediens: Aanddiens diens
Prediker:  Christi Thirion
Reeks:      geld lewe
Tema:       Gehoorsaamheid en offergawes
Teks:         Maleagi 3:1-12

Preek:
Inleiding:
Ons gesels die volgende paar Sondae saam oor “geld lewe”. Die titel gee vir ons goeie leidrade oor wat die inhoud van die volgende paar weke se gesprekke gaan wees. Sommige mense raak dadelik kriewelrig, want hier sit ons nou weer in die “en gee en gee en gee kerk”.

Ons predikers is net so kriewelrig, want dis nie ’n maklike tema nie. Iewers gaan een van ons iets sê wat iemand in die gemeente gaan ontstel en kwaad maak.

Ons uitdaging is egter dat geld een van die sterkste magte in ons wêreld is. Vir die  meeste mense is dit soos elektrisiteit: Dis krag wat hulle help om die lewe effektief te leef en sommige sit te veel kere daarsonder, soos ons nou beleef. Vir ander mense kan dit nie werklik as ’n krag bestempel word nie; dis bloot ’n gereedskapstuk. Vir ander is dit weer ’n krag waaroor hulle nie beheer het nie, byna asof dit ’n lewe van sy eie het, byna soos ’n demoniese krag.

Die feit bly, geld speel ’n rol in die lewe van elke mens. Dit is daarom nodig dat ons as gemeente saam gesels oor geld.

Skriflesing:
Maleagi 3:1-12(Nuwe Direkte Vertaling)
1Kyk, Ek stuur binnekort my boodskapper
En hy sal ’n pad voor my oopmaak.
Onverwags sal hy na sy tempel kom,
Die heer na wie julle soek,
Die boodskapper van die verbond
Na wie julle uitsien.
Kyk, hy is op pad,”
Sê die HERE, Heerser oor alle magte.
2Wie kan die dag van sy koms verduur,
Wie kan staande bly wanneer hy verskyn?
Ja, daardie dag is soos die vuur van die smelter
En soos die loog van wassers.
3Hy sal gaan sit
As iemand wat silwer smelt en suiwer.
Hy sal die Leviete reinig
En hulle soos goud en silwer suiwer.
Hulle sal aan die HERE behoort
En op die regte manier offers bring.
4Dan sal Juda en Jerusalem se offers
Weer vir die HERE aangenaam wees,
Soos in die ou dae, soos in die vroeër jare.

5Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer optree teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en weeskinders verdruk en hulle wat vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie” sê die HERE, Heerser oor alle magte.

6”Ek, die HERE, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders hou nie op nie. 7Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie.
Keer terug na My, dan sal Ek na julle terugkeer,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.
“Maar julle vra, ‘Hoe moet ons terugkeer?’
8Mag mens God besteel? Maar julle besteel My!
En dan vra julle nog, ‘Hoe besteel ons U?’
Van tiendes en bydraes!
9Daar rus ’n vloek op julle, maar My beroof julle, julle hele nasie. 10Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets my hierin,” sê die HERE, Heerser oor alle magte, “of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie. 11Ek sal vir julle die sprinkane berispe sodat hulle nie die opbrengs van julle landerye verwoes nie en die druiwestok in die wingerd sal vir julle nie sonder vrugte wees nie,” sê die HERE, Heerser oor alle magte. 12“En al die nasies sal julle gelukkig noem, omdat julle ’n begeerlike land sal wees,” sê die HERE, Heerser oor alle magte.”

HERE, Heerser oor alle magte
Hierdie teksgedeelte is deursuur met een van die oudste Hebreeuse belydenisse, naamlik YHWH Tsivaot
יהוה צבאות
Met hierdie belydenis van twee woorde het die mense van die Ou Testament op een slag ’n klomp goed gesê. Vir ons om die teks en daarom ons tema te verstaan, moet ons vinnig ’n paar van hierdie betekenisse uitpak en daaroor gesels.

Ek is
Die eerste ding wat ons moet uitpak is wat letterlik hier staan. Die Hebreeuse woord YHWH beteken letterlik “Om te wees”. Hierdie naam vir God kom uit verhaal van Moses by die brandende bos (Ek's.3:13-14), waar hy vir God vra:
“Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
Dis hoe God homself voorstel aan die mensdom, die God wat “Is”.

YHWH = Skepper
Wanneer die mense van die Ou Testament oor YHWH Tsivaot gepraat het, het hulle onmiddellik ook van Hom as die Skepper gepraat. Tsivaot beteken letterlik magte en kragte. Hierdie woord is meestal in die konteks van militêre mag en krag gebruik, maar ook vir die grootste natuurkragte. Heerser oor alle magte het dus letterlik alle magte ingesluit. Die rede hoekom die ou Hebreërs so kon sê, was omdat hulle geglo het dat God die Skepper was van alles, insluitend die magte wat dit beheer en vir hulle verstaan van die wêreld, kan jy nie iets maak sonder om die heerser daaroor te wees nie.

Die oudste Hebreeuse geskrifte is eers geskryf nadat Israel uit Egipte getrek het. Die verhale van Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef en sy elf broers, alles wat voor Egipte afgespeel het, is bloot as stories oorvertel. Die stories van Genesis het waarskynlik eers ontstaan in Maleagi se tyd, omdat die Judeërs in ’n vreemde land gesit het, waar die vreemde godsdienste dieselfde oor hul gode sê en stories gehad het om dit te staaf.

Tog bely die eerste geskrewe tekste dat God Skepper is, dat Hy heers, nie net oor hierdie klein, amper onbenullige volkie nie, maar oor alles in die heelal. Die term YHWH Tsivaot het beteken dat YHWH die een is uit wie alle magte ontstaan het. Hy was die een wat inisiatief geneem het en aan die skepping vorm gegee het en dit aan die gang gehou het.

Altyd eerste
YHWH het nog altyd met sy Skepping-inisiatief inisiatief in die wêreld ook geneem. Na die sondeval neem God inisiatief om dinge reg te maak. Ons lees in Genesis 12 dat God na Abram kom, deur in kort te sê “Ek sal jou God wees, ek sal jou seën, daarom kan jy my volg.” God herhaal hierdie patroon met Isak en Jakob en later weer met Moses en die Israeliete. Elke keer wanneer God vir Israel kom red is dit die patroon.

God kom na sy mense toe.

God seën hulle met wat hulle nodig het (Bevryding, manna en kwartels, militêre vermoëns, reën, ens.)

God vra reaksie.

Dit bring ons nader aan ons tema vir vanaand.

Offers op die regte manier

Veel meer as wat ons bring
Die Judeërs vir wie Maleagi ’n boodskap bring, was gekonfronteer met die supermoondheid van die tyd, naamlik Babilonië. Die Babiloniërs en in daardie geval meeste ander volke het offers na die gode gebring om die gode se guns te wen. Hulle wou hê dat die gode moes doen wat hulle wou doen en om dit te verseker moes die Babiloniërs voor die altare “perform”. Genoeg vleis, genoeg opbrengs van die land, genoeg wyn, genoeg musiek, genoeg dans, genoeg van wat ook al, sou die gode tevrede stel, sodat die gode dit weer sou laat reën, die insekplae weg sou hou, die oeste veelvuldig sou maak en die vyande op hul lande sou hou. Dit was die doelwit.

Die Judeërs het gesien hoe die Babiloniërs met hul gode werk en hoe oënskynlik suksesvol hulle in die lig daarvan was. Hulle het toe besluit dat die ballingskap en oorheersing deur Babilonië moes wees omdat hulle nie vir God tevrede gestel het nie. God het meer op die altare verwag. God sou hulle seën, indien hulle beter sou perform.

Hulle het daarom, met die verwagting van God se reaksie op seën begin om hul beste eenkant te hou en hul swakste altaar toe te bring. Hulle het begin dink harder en beter musiek, meer dans en enige ding op die altaar God se goedkeuring sou wen en dat God hulle dan sou seën met reën, plae wat sou wegbly en dan ’n groot oes. Hulle het visioene gekry van vooruitgang en rykdom.

Dit het egter nie gebeur nie. Die Judeërs het God begin beskuldig dat hy nie sy kant bring nie en selfs onder hul asem begin mompel dat dit tydmors was.

Die Judeërs het vergeet dat YHWH heerser oor alle magte was. Hulle het vergeet dat daar nie ’n area onder die son was, waar God nie regeer het nie. Hulle het gedink dat God homself net steur aan wat in die tempel gebeur en nie regtig betrokke was by ander goed nie. Buite die tempel het die Judeërs hulself, soos die Babiloniërs oorgegee aan ander magte, wat hulle gedink het buite God se bereik was. Hulle wou suksesvol wees en sou done wat hulle kon daarom reg te kry.
Sommige het oop en bloot op towenaars begin staatmaak.

Sommige het hulself oorgegee aan seksuele plesier en het egbreuk gepleeg en ander saam met hulle laat egbreek pleeg.

Sommige het bedrog gepleeg om vooruit te kom deur en leuens.

Ander het hul werkers en dagloners uitgebuit deur meer ure te eis as wat hulle betaal het.

Sommige het weduwees en weeskinders, wat nie eintlik ’n stem gehad het nie, misbruik om hulle te laat werk vir byna geen vergoeding nie, hulle te laat steel of hulself te laat verkoop.

Ander het vreemdelinge stief behandel en dalk selfs in die strate aangeval.

Almal het een ding in gemeen gehad: niemand het ontsag vir YHWH, die Heerser oor alle magte, gehad nie. Hulle het Hom nie gerespekteer nie. Hulle het Hom nie hanteer as die een wat die bron van hul lewens was nie. Hulle het Hom gesien as iemand om te manipuleer, om ’n greep op te kry, sodat hulle kon doen wat hulle wou, met bo-natuurlike aanmoediging.

Hierdie selfde mense het offers na die tempel toe gebring en gedink dat wat buite die tempel gebeur het, niks te doen het met wat binne die tempel gebeur nie.

Geregtigheid
Die boodskap wat Maleagi bring, is dat offergawes wat vir God aanneemlik is, die beste is wat jy kan gee. Wat die Judeërs nie mooi verstaan het nie, was dat God hulle reeds geseën het. God het reeds vir hulle alles gegee wat hulle nodig gehad het om ’n goeie lewe te leef. Indien die Judeërs die volle tiende van hul beste goed tempel toe sou bring, sou daar soveel vleis, graan, vrugte, melk en heuning wees, dat die priesters dit sou moes stoor. Wat dan sou gebeur is dat vreemdelinge, weduwees en weeskinders sou net nodig gehad het om tempel toe te gaan om versorg te word.

In ideale omstandighede het die weduwees daardie taak gekry om kinderoppassers en onderwyseresse te word, wat die weeskinders gehelp het om onderrig te ontvang, sodat hulle ’n kans kon kry op ’n goeie lewe. Die hoogtepunt sou wees dat hulle by die priesters die verhale van God se versorging uit die verlede sou hoor, dat hulle sou sien dat God steeds so werk en hulle sou die dankbare getuies wees dat God dit steeds doen. Die vreemdelinge sou met hierdie boodskap weer teruggaan na hul lande van herkoms en hulle mense sou besef dat daar nie ’n god soos YHWH was nie en dat hul afgode dalk nie heeltemal die moeite werd was nie. YHWH sou op daardie manier die herken word as Heerser oor alle magte.

Mense wat eerbied vir God het, sou dit nie waag om hul huwelik- en gesinsverbintenisse op te offer vir seksuele plesier en bevrediging nie.

Mense met eerbied vir God sou besef dat bedrog, valsheid en leuens hulle nie werklik vooruit sou neem in die lewe nie. Die finansiële wins sou vir hulle waarskynlik kleiner wees, maar met ’n ryker lewe.

Offers sou geregtigheid bring. Offers sou maak dat almal in Juda genoeg sou hê. Offers sou maak dat daar vrede en goeie verhoudings tussen mense sou wees en nie onderliggende vyandskap en konflik nie.

Gemeenskap
Maar hoe sou goeie verhoudings die reën laat val, die sprinkaanplae en swamme weghou?bGod werk deur mense en in besonder deur mense wat in gemeenskap met mekaar leef.

My oupa was ’n skaapboer in Suid-Wes, tussen Ariamsvlei en Karasburg. Dis nie wêreld wat bekend is vir reën nie, so dis ook nie regtig bekend vir geweldige weiding nie. Die boere moes dus hul beste doen om water te verseker en hul weiding te beskerm. My oupa se plaas was oor die 11000 hektaar groot en dit was een van die kleiner plase, want hy moes die oorspronklike familieplaas nog deel met een van sy broers. Elfduisend hektaar is groot. Oupa op sy eie kon nie altyd alles beheer wat op sy plaas aangaan nie.

Hulle het in daai wêreld sprinkaan-plae gekry wat Die Burger gehaal het. Ek het nog net  foto’s daarvan gesien en my pa se stories daarvan gehoor.

Dink jou in: ’n wolk van sprinkane, so drie verdiepings hoog en ’n goeie paar honderd meter in deursnee. Goggas wat enige iets tussen 5cm en 10cm groot was. Hulle het enige ding gevreet wat voorkom. In ’n goeie reënjaar het die skape grootliks net die gras geëet. Daar was egter ’n geharde bossie wat in die droogste tye blaartjies gehad het, die driedoring. As die driedoring niks meer aan gehad het nie het die boere geweet die ’n slegte tyd. Sprinkane kon ’n driedoring tot op die grond afvreet.
Die manier hoe die Suid-Wes boere sprinkaanplae gestop het, was om van vêr en wyd, met hul vrouens en kinders so na as moontlik aan die plaag te kom met enige ding wat wiele het en dan het hulle almal saam gif gespuit.

Hulle het dieselfde met roofdiere gedoen en soos ons onlangs in die Kaap beleef het, met veldbrande. Soms het boere van honderde km vêrder, wat heeltemal buite gevaar was kom help. Hulle het almal geweet dat een boer nie sy hele plaas kan beskerm nie en een boer se moeilikheid was hul almal se moeilikheid.

God sou nie keer dat die sprinkane uitbroei nie, maar deur gemeenskap sou hy keer dat die sprinkane als tot niet maak.

Lewe om te seën
Van die vroegste verhale in die Bybel gaan daaroor dat God mense bemagtig daarom wat Hy vir hulle gee ’n vorm van wins te laat maak. Vir Adam en Eva sê Hy dat mense na God se beeld gemaak is en daarom moet hulle die aarde bewoon en bewerk, deur te heers oor die vis in die see, die voëls in die lug en die diere op die grond. Hulle moes die skepping se krag ontsluit. Vir Abraham sê God ek sal jou seën met ’n groot nageslag om tot seën van alle mense te wees, m.a.w. God maak ’n belofte aan Abraham, sodat die ander volke op die aarde sou sien God is betroubaar en goedgesind en dat hulle nie sy guns hoef te probeer wen nie.

Maleagi se boodskap sê vir die Judeërs, julle is eintlik alreeds geseën. God sê vir hulle “Toets my”. Gee die beste van wat julle het, uit wat ek reeds vir julle gegee het, sodat dit tot seën van ander kan wees en julle sal sien dat die gebrokenheid, die boosheid en die sterkste natuurkragte en regerings nie die laaste woord oor julle sal spreek nie, maar “EK” YHWH, die heerser oor alle magte.

Die vraag het hierdie week na my toe gekom: hoekom moet ons deur die kerk gee en nie sommer self nie. Een van die redes is omdat deur die kerk gee ons op plekke waar geregtigheid en versoening so nodig is, maar waar ons as individue, selfs deur ons beste konneksies nie noodwendig sou nie.

Ek is seker dat die meeste van ons wat hier sit nie ’n volle tiende gee nie, maar ek wil julle nie daaroor laat skuldig voel nie. Ek wil vier wat die Here reeds doen. Ek ken ’n jong ouditeur wat die twee laaste jaar Badisa filiale se state moes oudit. Meeste van die ouetehuise, kinderhuise en maatskaplike dienste in die Wes-Kaap word deur Badisa bedryf en nie die regering nie. Die karige bydraes van NG Kerk lidmate maak dat Badisa byna drie keer meer geld van die NG Kerk ontvang as van die regering. Dis algemene kennis dat die NG Kerk deur Badisa die grootste vennoot van die regering is vir maatskaplike dienste in die Wes-Kaap.
Ons tyd laat ons nie toe om te verduidelik hoe groot die impak is van wat die Here deur ons bydraes maak nie.

Deur die groter organisasie van die kerk, regeer God oor die groter magte in die samelewing. My individuele bydrae kan nie op my eie ’n duik maak aan die groot sistemiese magte van armoede en die algemene gemors in ons land nie, maar die gemeenskap van gelowiges wat bydra word die manier hoe God die gebrokenheid keer en herstel.

Deel van die uitdaging bly egter dat ons baie keer steeds ons geld, maar ook ons ander bates, soos tyd en eiendom as iets sien wat niks met God of met die kerk uit te waai het nie.

God se boodskap deur Maleagi wys vir ons dat ons oop oë deur ons lewens moet gaan, want selfs die gebrokenheid wat ons raaksien is tot seën vir ons. Daar waar ons saam met God lewe en gee wat ons het, dis waar God die wêreld heelmaak. Dis waar God die Heerser is oor al jou mag en dis daar waar God ook die heerser is oor al die ander magte in die wêreld.

No comments:

Post a Comment