Sunday, August 21, 2011

Oor Bakkies en Behoeftes

Dit tref my so rukkie terug dat mense nie meer kan onderskei tussen behoefte en noodsaaklikheid nie. ’n Behoefte is in die sin ’n “nice-to-have. Dis nie op sigself verkeerd of sleg nie, maar daarsonder sal jou lewe nie tot ’n einde kom nie. ’n Noodsaaklikheid is iets waarsonder ’n mens nie kan lewe nie; ’n gebrek daaraan plaas jou lewe letterlik in gevaar. Dit het my in die eerste plek getref, want ek het, in die tweede plek, ’n behoefte aangesien vir ’n noodsaaklikheid. Laat ek verduidelik.

Ek het ’n paar jaar gelede vir my ’n dubbelkajuit 4x4 bakkie aangeskaf. Toe ek ’n hoërskool seun was, was dit die enigste opsie vir ’n voertuig vir my. As jy nie die bos uit jouself kan uitkry nie, moet jy sorg dat jy die miere in jou klere kalmeer, deur in die bos te kom en dan is die enigste gepaste manier met ’n 4x4 bakkie. Die stasiewa-weergawe van ’n 4x4 was vir mense wat teen randstene wou uitry. As jy rof, grof en onbeskof wou wees, soos dit iemand met swarthaak-bosse inplaas van witbloedselle betaam, moes jy ’n bakkie ry (jy sou net-net aanvaarbaar wees met ’n Land Rover Defender).

My eerste kar was egter ’n “platkar” wat ek by my ma oorgeneem het- so lekker blitsige affêre, wat lekker gewerk het, maar tekorte gehad het. Ongelukkig (gelukkig?) jaag ’n jafel een dag oor ’n rooi verkeerslig en in die blitsige kar se ribbes in, wat hom toe op die skrootwerf laat beland het. Met die versekering geldjies koop ek toe my eerste bakkie… ’n Volkswagen Caddy.

Die Caddy het wel hoër op sy wiele gestaan as die blits, ’n lang bak gehad, maar helaas nog nie ’n 4x4 nie. Mense sou my wel minder skeef aankyk as ek ’n grondpad sou ry met daai bokwa. My beste vriend moes my ook eendag uit ’n modder-put kom uithaal, omdat ek oortuig was dat ek met die 1.8 en 14” voorwiel aangedrewe wa enige plek kon ry waar die 4x4 manne sou kon. Dis mos ’n kwessie van tegniek of hoe? Die bakkie het ook baie funksioneel gewerk. Ek het ’n paar vragte tussen die Kaap en Gauteng in my studente dae karwei en met redelike gemak selfs ’n sleepwa gesleep. Die bakkie het eendag egter sy einde bereik toe hy sonder Elia in vlamme opgegaan het. My pa ontferm hom toe ’n paar maande later oor my en bemaak sy platkar, ’n baie populêre model uit Japan aan my.

Toe ek later van tyd begin werk, was die enigste praktiese ryding ’n bakkie. Vir al die projekte waarmee ek besig was en plekke war ek moes kom, sou net ’n bakkie my kon bring. Daarvoor skaf ek toe ’n Isuzu aan, wat my enkele maande gehou het, voor die my in twee jaar se intensiewe skuld gedompel het weens ’n gekraakte silinderkop.
Om die skade te betaal moes ek toe maar vir my ’n goedkoop, betroubare bakkie kry. Die keuse was daarom ’n Nissan 1400; daai legendariese bakkies wat Suid-Afrika in standgehou het en steeds ’n groot bydrae daarin lewer. Met daai bakkie was ek ook in ’n paar gate in waarin ek seker nie moes nie, maar ek het elke keer daar uitgekom. Ek kon egter nie baie mense in hom laai nie, wat saam met die projekte, toenemend van meer belang was. Ek moes dus begin kyk na ’n dubbel-kajuit. Ekstra sitplekke vir passasiers en ’n bak vir werk.
Ek het toe begin soek en besef dat as ek hard genoeg gaan soek, gaan ek saam met die dubbelkajuit bakkie, dalk nog ’n droom bewaarheid, naamlik ’n 4x4 bakkie. Ek kry toe ’n absolute winskoop. ’n Dubbelkajuit bakkie, met relatief min kilo’s vir sy jare, met 4x4 en ’n paar ander goed wat dit net lekker gemaak het. Werk het daai bakkie nou al gewerk! Mense, goed, projekte, trek, vakansie en nog ’n klomp goed wat jy aan kan dink het daai bakkie nou al gedoen. Hy is baie effektief en bruikbaar, maar hy is ook goed vir daai miere in my klere.

Verlede jaar kry ek ’n geleentheid om ’n Pajero te bestuur vir ’n ver ent met een van my projekte. Ek moes die kar vol kinders laai en ’n sleepwa sleep. Net daar raak ek totaal en al versot en verlief. Al my stereotipes oor 4x4 stasiewaens het daar en dan versplinter in fyn stof en die plannetjies om een te kry, het begin ontkiem.
Nou-die-dag sit ek en administrasie doen, waar ek sien dat my bakkie amper afbetaal is. Die gedagte krap mos op daai oomblik waar dit nie werklik jeuk nie: hoeveel sal ek moet leen om ’n Pajero te koop, indien ek my bakkie sou verkoop? Wat ek weldra uitvind is dat dit nie te veel sal wees nie, maar dat ek nie die bakkie vir sy volle waarde sal kan verkoop soos hy nou staan nie, aangesien daar enkele goedjies is wat bietjie aandag kort. Soos ek die saak oordink besef ek ook die bakkie sien om na al die noodsaaklikhede wat ek aan ’n voertuig het, maar ook ’n paar behoeftes. Al wat ’n Pajero beter sou doen, is om nog ’n paar behoeftes aan te spreek en nie noodwendig meer noodsaaklikhede nie.

Die punt is op die ou end, dat ek myself vir ’n paar oomblikke oortuig het dat ’n behoefte ’n noodsaaklikheid is. Indien ek die behoefte sou bevredig, kon dit dalk ’n paar noodsaaklikhede in gedrang gebring het, deurdat ek nie noodwendig daarvoor geld beskikbaar sou hê nie.

So oortuig talle mense hulself dat behoeftes noodsaaklikhede is. Hulle spandeer dan soveel geld aan die behoefte, dat noodsaaklikhede daaronder begin lei. Is dit nie dalk waar die Amerikaanse en Europese skuldkrisis vandaan kom nie? Ons moet dalk behoeftes op hul plek sit en eers aandag aan noodsaaklikhede gee. So maak ons dalk die wêreld ook ’n beter plek…

1 comment: