Saturday, July 19, 2014

Oor Steve en Die Stem

So paar weke gelede gons dit op sosiale media en koerante oor Steve Hofmeyr tydens sy optrede by Innibos Die Stem sing. 'n Wye reeks mense het uiteenlopende kommentaar daarop gelewer, maar min daarvan was, volgens my, goeie kommentaar. Daar was verskeie redes daarvoor en die eerste was dat mense te veel daarin gelees het en afleidings gemaak het, wat ek dink, nie naastenby die bedoeling was nie.

Afleidings en interpretasies
Ek vermoed dat die meeste mense die omstandighede waarin Steve Die Stem gesing het verkeerd geïnterpreteer het.

'n Afrikaanse kunstefees in 'n uithoek van die ou Transvaal. Dit kan maklik aanleiding gee tot baie interpretasies. Ek dink die meeste van Steve se kritici sal nie sommer uit vrye keuse die betrokke fees in die betrokke omgewing bywoon nie (ek inkluis) omdat dit binne 'n stereotipiese Afrikaanse kunstefees kategorie val en letterlik op die rand van Suud-Afrika plaasgevind het. Maar omdat dit in hulle (ons) koppe binne daardie stereotipe lê plak hulle (ek ook) sekere idees daarop wat dit vinnig 'n regse Afrikaner saamtrek maak.

Wat is egter die verskil tussen Innibos, Oppikoppi en die Woordfees? Almal is baie Afrikaans; maak dit dan elkeen van daardie feeste 'n teelaarde vir hunkering na Apartheid Suid-Afrika en Afrikaner dominering? Allermins.

Die mense met die felste kritiek teen Steve en die skare se singery van Die Stem, was nie daar nie. Hulle het nie Steve se hele optrede beleef nie. Hulle het nie die skare se atmosfeer gemeet nie. Hulle weet nie wat Steve vooraf of na afloop van die singery in die openbaar gesê het nie. Hulle het interpretasies gemaak op grond van afleidings en op grond daarvan kritiek oor Steve en die skare gelewer wat hulle dalk nie moes doen nie.

'n Track record
Aan die ander kant kan Steve ook niks minder verwag nie. As 'n mens Steve se uitsprake en "aktivisme" van die laaste paar jaar as konteks gebruik vir sy motiverings, kan die afleidings baie maklik vanself kom, dat Steve hunker na 'n romantiese idee van die vorige bedeling.

Steve het nog nie, wat ek kon hoor, skreiende rassistiese uitsprake in die opnbaar gemaak nie. Sy volksmoord-uitsprake en "aktivisme" wys dat hy geweld en misdaad as 'n swart-teen-wit saak sien. Hy misken die gruwelike geweld wat wit mense teen ander wit mense pleeg, veral mans teenoor hul vrouens (Modimolle-monster as een uiterste voorbeeld). Hy misken dat daar meer moorde in die townships is per 100 mense as wat daar op plase teenoor wit mense is of in voorstede.

Steve wys eintlik dat hy net tussen wit Afrikaanse mense beweeg wat dieselfde as hy na die wêreld kyk en dat hulle persepsie hul enigste werklikheid is. Hul persepsie, wil dit my voorkom, is dat Suid-Afrika beter af was toe 'n wit regering die barbaarse swart terroriste met kommandos, die polisie taakmag en diensplig soldate onder beheer gehou het. Die swart regering is besig om alles te laat gaan. Die swart polisiemag stel nie belang daarin om misdaad te stop nie en Afrikaners moet daarom saamstaan en keer dat almal uitgemoor word. (My persepsie van hulle persepsie.)

Die sprong van Steve wat Die Stem by 'n Afrikaanse kunstefees sing en die gebruik daarvan as 'n emosionele rassistiese simbool is dus nie te moeilik om te maak nie.

Die Stem
Die Stem is in der waarheid 'n Afrikaanse kultuurskat wat toevallig die nasionale volkslied geword het. C.J. Langenhoven het digterlik 'n prentjie van ons land geskets wat jou geestesoog help om in 'n oomblik die mooiste van ons land vas te vang.

Uit die blou van onse hemel
Uit die diepte van ons see
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee

Oor ons ver verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa
Rys die stem van ons geliefde
Van ons land Suid-Afrika

Ons sal antwoord op jou roepstem
Ons sal offer wat jy vra
Ons sal lewe, ons sal sterwe
Ons vir jou Suid-Afrika.

Die sleutel is die laaste reëls. Suid-Afrika met die geweld, korrupsie en gemors roep ons om die verdeeldheid en onreg te oorbrug. Die land smeek na mense wat hulself sal offer ter wille van vrede en voorspoed van elke mens: Afrikaner, Engelse, Zulu, Xhosa, Sotho, Tswana, asook gay, straight, man, vrou, kind en bejaard. Die land smeek dat ons sal lewe met 'n ingesteldheid dat almal waardevol is en dat die mense wat met daardie ingesteldheid gesterf het, hetsy in die Vryheidsoorloë of in die struggle en selfs op die grens se lewens nie verniet uitgestort is nie. Ons vir jou Suid-Afrika verklaar tog dat dit oor veel meer gaan as net een groep se belang maar oor almal wat in die land woon.

As Steve weer Die Stem sing, hoop ek opreg dat hy dit sal sing omdat hy ernstig is oor die lied se oproep en ideaal tot 'n Suid-Afrika vir Suid-Afrika. As ek weer Die Stem sing en hoor mag dit my herinner om my moue op te rol en aktief te stry teen die geweld wat teen boere, vroue, kinders, bejaardes, swart mynwerkers en elke ander mens gepleeg word. Mag dit ons inspireer om ons kultuurskat vrygewig te deel met elkeen en hul skatte van taal, stories en simbole met uiterste respek te hanteer. Mag Die Stem 'n simbool wees wat ons nader aan mekaar trek en 'n verenigde trotse land maak met alle mense wat in opregtheid verklaar "Ons vir jou Suid-Afrka!"

No comments:

Post a Comment