Wednesday, August 3, 2011

Boetman I

Boetman I


Een dag, vroeër in hierdie week, ry ek na die plek waar ek baie kere besig is. Ek het die gewoonte om hierdie rit met my bergfiets af te lê en ek doen dit weens verskeie goeie redes (hoewel sommige van my vriende dink dis ’n slegte gewoonte). Een van die goeie redes is omdat dit my help om my kop bietjie in orde kry en bietjie met die Here te gesels oor van die goed wat baie spasie in my kop opneem.
Op hierdie spesifieke mooi wintermôre was dit nou ook die eerste keer in ’n wyle wat ek hierdie rit doen en ek dink toe nou aan die laaste paar weke voor k die rit die laaste keer onderneem het. En daar staan toe nou so paar suur gebeurtenisse vir my uit. Jy weet, daai suur wat jy kry wanneer jy so vet, amperse roes-oranje naartjie, met ’n skil wat sommer in sulke gewillige velle aftrek, skil en die verwagte soet vitamien C-nektar is askorbiensuur wat jou kiewe so trek dat jou mond en jou oë self nie regop kan bly nie. Daai suur wat jou solank laat soek na ’n Rennie as jy weet die asyn oor jou slaptjips gaan chemiese brande in die distrik van jou maagwand laat opvlam. Daai suur kry ek toe, daar op my fiets, op die R304, skuins na 08:00 in die môre, sonder enige suur naby my lippe.
Ek moes paar weke vantevore preek voor my klas. Die tema wat ons toe nou kry, het iets met God en sy herskepping te doen en ek kry Spreuke 8. Dit handel nou oor Vrou Wysheid wat haar verheug in God se skepping, maar meer nog die mensekind wat saam met haar in die skepping van God moet speel. So trek ek nou die lyn daarna dat speel saam met Vrou Wysheid in die skepping beteken dat jy bietjie moet speel met idees oor hoe om meer groen te lewe. So neem ons speel-speel deel aan hoe God die aarde daagliks nuut maak.
Ek raak toe nou ook prakties en dit lyk my is ’n baie dun stukkie ys om op te skaats in die akademiese teologie. Een van my (byna) tien voorbeelde is toe om jou outomatiese wasmasjien se kleinste moontlike verstelling vir die bondel te gebruik. Na die tyd sal die een dosent my mos nou aanvat oor ek die voorbeeld gebruik, want ek neem nou kwansuis nie my konteks in ag nie. Daar mag dalk iemand in die klas sit wat nie ’n outomatiese wasmasjien het nie. Die volk wat toe nou voor my sit is een Duitser, een Amerikaner, 18 wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, een kleurling en een Xhosa broeder. Nou sê vir my, wie bedoel meneer professor nou was nie klere met ’n masjien nie? (Hy het natuurlik gedink hy is oulik en vryf ons Xhosa-broeder se agterwêreld blink.) Eerstens was die eersgenoemde 21 definitief almal met ’n outomatiese wasmasjien, al is dit een wat eers ’n paar R5’de insluk voor hy met ’n gerammel en gedans jou kleertjies skoon skud. Indien ons Xhosa-broeder sy wasgoed met die hand was, was hy dit verseker nie met Sunlight, Omo of Surf nie, want daai lot seep het almal so kenmerkende geur wat amper geen versagter kan verbloem nie en ons Xhosa-broeder se klere het nog nooit daarna geruik as ek langs hom gaan sit het nie. So eintlik het Proffie vir ons Xhosa-broeder gesê: “Jy is arm, agterlik en was nie jou klere nie.” Rassis, as jy my vra. Selfs al het hy sy klere met die hand gewas, was daai voorbeeld in die konteks van die meerderheid van die klas gepas.
Waaroor ek toe nou so suur was, was die feit dat hierdie geleerde proffie met sy opmerking toe nou waag om vir my ’n veel swakker punt as ’n groot persentasie van my kollegas te gee. As ek nou ’n klomp wol gepraat het, was hy welkom, maar nou was een van die ander proffies se opmerking juis dat ek amper die enigste ou in die klas was wat by die tema gehou het. Suur, suur, suur…
My preek het ook juis gehandel oor hoe ek nou in die skepping van God rondspeel deur bietjie fiets te ry. Een van die redes hiervoor is dat ek die voëls langs die pad bietjie kan dice, maar meer eintlik om petrol te spaar, vir my beursie en my koolstof skoen.
Hierdie mooi oggend merk ek toe nou juis op hoeveel mense enkel en alleen in hul karre daar op die R304 sit. Na ’n tyd het ek al die jaagduiwels wat verby my geskreeu het weer ingehaal. Toe raak ek kwaad, want ’n klomp van daai mense sit in hul motors want hulle hou te veel van gemak. Dis daai kalante wat eerste kla oor die brandstof wat deesdae so duur is. Dis ook dieselfde kalante wat kla oor hulle so vet raak en nie tyd het vir oefen nie. Dis vir hulle wat ek sou voorstel, gryp jou fiets, maar dis hulle wat elke dom verskoning in die boek sal uithaal om eerder met hul karretjie te ry en almal nander die skuld daarvoor te gee.
Toe trek my kiewe weer so op in my kake. Dis dieselfde moeilikheid met die politiek. Die swartes sê dis Apartheid se skuld dat die land lyk soos hy lyk, terwyl ander weer sê dis ons huidige regering se skuld. Niemand is bereid om op te staan en te sê: “Hier waar ek nou is, gaan ek moeite aan ons land doen.” nie. Maar dit word dalk nou die volgende storie…

2 comments:

  1. Mmm. Interessante seepkispreek. Maar jou baie "nou'e" pla.

    ReplyDelete
  2. Nou ja. Ek sal nou nie meer "nou'e" gebruik nie. :)

    ReplyDelete