Thursday, June 9, 2011

Genade verniet II

Die wonderlike ding van die NG Kerk is dat ons elke jaar Pinksterdienste hou. Pinkster is mos die viering vand ie uitstorting van die Heilig Gees en hoe dit die eerste kerk geaktiveer het. Die Heilige Gees is die gestalte van die lewende Jesus wat nou beskikbaar is vir elke mens. Jesus wat deur sy Gees by ons lewe bring in die eerste plek Jesus se verlossing deur die kruis en opstanding na ons waar ons is. Die significance daarvan is dat dit ons help om nou, elke dag in 'n verhouding met ons Skepper te leef. Die verhouding met ons Skepper help ons deurdat ons elke dag deur Hom geleidelik hervorm word na die mens wat Hy ons gemaak het om te wees.

Jesus wat ons hervorm nooi ons uit om saam met Hom te leef. Hy nooi ons uit om saam met Hom te wandel. Hoe wandel ons saam met Hom? Ons raak stil en leer uit die stories wat Hy vir ons laat opteken het in die Bybel. Dan kyk ons na ons eie lewe en laat toe dat Hy vir ons wys hoe Sy stories en ons storie ooreenstem en hoe Jesus ons storie wil deel maak van sy storie.

Dan sien ek myself raak in Petrus wat op die water probeer loop en hoe Jesus uitbundig lag wanneer hy sink. Nie lag oor dit vir Hom snaaks is nie, maar lag omdat Hy opgewonde is oor Petrus se probeerslag.

'n Lewe saam met Jesus is oefen. Die struktuur en grense is soos 'n gym-oefenprogram. Jy moet sekere oefeninge doen om sterker te word in sekere spiere om sodoende sekere bewegings te kan doen. Jy moet sekere bewegings en tegnieke herhaaldelik doen om dit reg te doen. In die proses raak jy seer en styf, want jou spiere is nie gewoond daaraan nie. Jy kry dit nie elke keer reg nie. Jesus help jou om te oefen.

Genade is juis dit: Jesus help jou op wanneer jy dit nie regkry nie. Hy moedig jou aan om weer te probeer. Hy gee raad oor hoe om dit anders te doen.

Hoe jy die helpende hand ervaar is deur die kerk, sy instrument. Hoe jy die aanmoediging hoor en die raad kry is deur elke dag by Jesus se voete te gaan rus en luister.

Genade verniet, oor my uitgegiet...

No comments:

Post a Comment