Sunday, August 9, 2020

Hoor jy?

Hoor jy dit? Luister mooi - kan jy hoor? Dis sag, amper soos 'n fluister. Maar dit bewe, soos 'n onderlip net voor die trane begin rol. Dis die bloed wat roep uit die grond. Dis die laaste asem van 'n verwurgde. Dis die weifel-stem agter 'n toedruk-hand. Dis die woord wat vashaak op die punt van haar tong.

Dis die roep van 'n vrou. 

Die 2019 misdaadstatistiek het my weer die stem laat hoor met 171 070 sake van geweld teen vroue. Volgens NGO's wat hiermee werk is byna ál die oortreders hiervan mans (hoewel die polisie nie die spesifieke getalle wil bekend maak nie) en volgens die polisie is die oorgrote meerderheid bekend aan die slagoffer en in amper 4 uit 10 gevalle die intieme maat van die vrou.

Dis gevaarliker om 'n vrou te wees - 2695 vermoor in 2019 - as om 'n boer te wees (46).

Wat ons nie kan meet nie, is die verbale en emosionele mishandeling van vroue, die teistering van vroue in die werkplek en sommer net die manier hoe stereotipes en die stelsels van patriargie vroue ontmagtig en in baie klein boksies druk.

Op Nasionale Vrouedag hoor ek die stem. Op 9 Augustus 1956 het vroue ons laat hoor, met stilte en daarna 'n lied: Wathint'Abafazi Wathint'imbokodo!" (Now you have touched the women, you have struck a rock.)

Maar Afrikaanse mans, julle sal daarby baat om die stories te gaan opsoek van jul oumas en ouma-grootjies en hulle oumas in die Groot Trek, die konsentrasiekampe, die Groot Griep, droogtes en Depressie-jare. Jy kon toe reeds die lied hoor.

Hoe durf ons nog vroue se stemme stil maak? Hoe durf ons nog vroue reduseer tot net 'n lyfie of iets mooi om na te kyk?

In Genesis is vrou, Eva, 'n lewensredder, nie net 'n helper nie en dis die storie van Sarai, Rebekka, Ragel en later, Miriam, Ragab, Debora en Ester. Maria word byna 'n versamelnaam vir vroue wat die evangelie van Jesus moontlik maak in die Nuwe Testament. Die kerkgeskiedenis het soveel merkwaardige vroue wat uitstaan as teoloë en geestelike leiers en sendelinge. Dink net aan die verkillende Theresas, die een van Avila en Lisieux en Calcutta. 

Op hierdie Vrouedag, wil ek vroue vier. Vroue is 'n baie groot deel van die "beeld van God." Geen man kan daardie beeld dra sonder 'n vrou nie en dis nie net waar vir geboorte nie, maar vir elke fase van die lewe.

Luister daarom mooi vir die stem. Luister mooi na die vroue-stem in jou eie huis en elke plek waar jy loop. Luister hoe sy fluister, selfs agter die hand wat haar mond (of haar keel) toedruk. Luister hoe haar bloed uitroep uit die grond. Skree dan saam met haar. Skree, sodat sy kan lewe en ons mans saam met haar die beeld van God kan sien en kan wees. 

1 comment: