Friday, November 16, 2018

Advent

Advent  - die begin
Advent kom van die Latynse woord adventus af, wat met “begin” of “koms” vertaal kan word. Vir ons as gelowiges, is dit die begin van die Kerkjaar. Dis die paar weke voor Kersfees, waar ons gereed maak om Jesus – God met ons – se geboorte vier, maar ook mekaar herinner aan ons afwagting op Jesus se wederkoms. ‘n Paar eeue voor Jesus se geboorte, het die profeet Jesaja sy generasie se afwagting en eintlik ’n desperaatheid verwoord. Sy gebed in Jesaja 9 het my daaraan herinner dat ons in hierdie komende seisoen dalk ook met meer as net afwagting sit. Dalk selfs ‘n bietjie desperaatheid:

Want vir ons is ‘n kind gebore, ‘n Seun is vir ons gegee:
Vir almal van ons
Die weeskind en weduwee
Die hawelose en verslaafde
Die depressie en diabetes lyer.

Vir ons die hoofleier en detensie bywoner
Die oorweldigde enkelouer en kinderlose
Die professionele industrieleier basiese bloukraagwerker

Vir elkeen van ons is die Seun gegee.

Die seun het ‘n geheime rewolusie begin.
Sonder om ‘n skoot te skiet of swaard te trek
Sonder verkiesingstruuks of slagspreuke
Word hy die Koning.

Met titels soos
Wonderskone wysheid
Koning van vrede
Vader.

Hy word die God wat regmaak
Hy word die God met vuil hande
Hy word die God wat gespot word
Hy word die God by ons.

Ons is desperaat vir die dag wanneer Hy
Nasionalisme neutraliseer
Kru kapitalisme kanselleer

Ons is desperaat vir die dag wanneer Hy
Onvolmaakte gebede verhoor
Misdadigers en staatskapers laat verloor

Ons is desperaat vir die dag wat Hy
Die laastes eerste laat staan
Hartseer en trane finaal laat vergaan.

Want, ‘n kind is vir ons gebore
‘n Seun is vir ons gegee
Vir elkeen van ons
‘n nuwe begin, ‘n nuwe môre.



No comments:

Post a Comment