Saturday, October 13, 2018

Brood

‘n Goeie vriend van my het ’n tiener seun. Die meeste van ons weet dat die gemiddelde tiener seun soveel eet as wat ‘n vol gelaaide Boeing 777 brand-stof gebruik om op te styg. Die vriend se daaglikse brood-begroting behels basies een-en-‘n-halwe brood vir sy seun en dan omtrent ‘n halwe brood vir die res van die gesin. 

Brood is wêreldwyd in verskillende gedaantes ‘n stapelvoedsel, want dis eenvoudig en taamlik vullend. Wanneer Jesus ons leer bid “gee ons vandag ons daaglikse brood” sal die gemiddelde mens maklik verstaan dat dit oor kos gaan wat ons nodig het en ons basiese oorlewing.

In die Matteus-evangelie, nog voordat Jesus mense leer bid, sien ons dat Jesus vir ‘n ruk lank sonder daaglikse brood geleef het. “Daarop het die Gees Jesus die woestyn ingelei om deur die duiwel versoek te word. Nadat Hy vir 40 dae en 40 nagte gevas het, het Hy naderhand baie honger begin word. Toe kom die versoeker na Hom toe en sê vir Hom: “As jy dan die Seun van God is, beveel hierdie klippe om brode te word.” Maar Jesus het hom geantwoord: “Nee! Daar staan in die Skrif geskryf: ‘’n Mens het meer as brood nodig om van te lewe. Wat jy eintlik nodig het, is om te leef van elke woord uit God se mond.’” (MATTEUS 4:1‭-‬4 NLV) ‬

Elke woord van God is meer noodsaaklik as brood.

Navorsing wat ’n paar jaar gelede deur e-kerk gedoen is, het gewys dat omtrent twee derdes van gelowige Afrikaanse mense minder as een keer per week Bybel lees. Wanneer hulle wel Bybel lees, is dit een vers en gewoonlik uit ‘n Bybeldagboek. Hoe sal ons lyk as ons een maal per week een sny brood eet en niks anders nie?

Ons het ook agter gekom dat wanneer mense die Bybel lees, word dit soos ‘n woordeboek of ‘n naslaan boek gebruik. Ons soek een van die volgende goed in die Bybel:
• ‘n versie vir motivering of aanmoediging
• ‘n versie om ‘n morele beginsel te onderstreep
• ‘n versie om ‘n argument te vorm

Ons gebruik dus die Bybel as ‘n stuk gereedskap. Dis soos om ‘n ou stuk droë brood te gebruik as ‘n hamer; of ‘n uitgedroogte sny brood vir ‘n dakteël; of natgemaakte brood vir stopverf. Dit kan werk, maar dis nie waarvoor dit gemaak is nie.

Ons het die Woord van God nodig om ons daagliks te voed, soos brood. Soms eet ons dit sommer gou in die hardloop oppad skool of werk toe. Soms eet ons ‘n broodjie vir pouse of teetyd. Brood kan soms ‘n hele ete wees. Dis egter ‘n daaglikse stapelvoedsel.

Jesus leer in Johannes 6:33, 35 dat hyself die brood is wat lewe gee. “Die brood van God is Hy wat uit die hemel kom en aan die mensheid lewe gee... Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger word nie; en wie op My vertrou, sal nooit weer dors kry nie...”

Wie weet, miskien sal ons minder debat onder gelowiges sien wanneer ons mekaar minder met droë brode gooi. Miskien werk ons land steeds, ten spyte van die regering omdat daar mense is wat daagliks van elke woord van God leef en daaruit krag en ywer en hoop kry vir die lewe.

Praktiese uitnodiging: Sit vir elkeen in die huis, wat ‘n kosblik kry ‘n “briefie” met die Bybel app se vers vir die dag saam met hul kos. Lees die teks uit Sondag se preek, hierdie week by elke ete wat die huishouding saam eet uit verskillende vertalings.

1 comment:

  1. Seun, jy moet baie meer skryf! Ek weet tyd is 'n kwessie... maar skryf moet jy skryf!

    ReplyDelete