Sunday, August 21, 2011

Oor Bakkies en Behoeftes

Dit tref my so rukkie terug dat mense nie meer kan onderskei tussen behoefte en noodsaaklikheid nie. ’n Behoefte is in die sin ’n “nice-to-have. Dis nie op sigself verkeerd of sleg nie, maar daarsonder sal jou lewe nie tot ’n einde kom nie. ’n Noodsaaklikheid is iets waarsonder ’n mens nie kan lewe nie; ’n gebrek daaraan plaas jou lewe letterlik in gevaar. Dit het my in die eerste plek getref, want ek het, in die tweede plek, ’n behoefte aangesien vir ’n noodsaaklikheid. Laat ek verduidelik.

Ek het ’n paar jaar gelede vir my ’n dubbelkajuit 4x4 bakkie aangeskaf. Toe ek ’n hoërskool seun was, was dit die enigste opsie vir ’n voertuig vir my. As jy nie die bos uit jouself kan uitkry nie, moet jy sorg dat jy die miere in jou klere kalmeer, deur in die bos te kom en dan is die enigste gepaste manier met ’n 4x4 bakkie. Die stasiewa-weergawe van ’n 4x4 was vir mense wat teen randstene wou uitry. As jy rof, grof en onbeskof wou wees, soos dit iemand met swarthaak-bosse inplaas van witbloedselle betaam, moes jy ’n bakkie ry (jy sou net-net aanvaarbaar wees met ’n Land Rover Defender).

My eerste kar was egter ’n “platkar” wat ek by my ma oorgeneem het- so lekker blitsige affêre, wat lekker gewerk het, maar tekorte gehad het. Ongelukkig (gelukkig?) jaag ’n jafel een dag oor ’n rooi verkeerslig en in die blitsige kar se ribbes in, wat hom toe op die skrootwerf laat beland het. Met die versekering geldjies koop ek toe my eerste bakkie… ’n Volkswagen Caddy.

Die Caddy het wel hoër op sy wiele gestaan as die blits, ’n lang bak gehad, maar helaas nog nie ’n 4x4 nie. Mense sou my wel minder skeef aankyk as ek ’n grondpad sou ry met daai bokwa. My beste vriend moes my ook eendag uit ’n modder-put kom uithaal, omdat ek oortuig was dat ek met die 1.8 en 14” voorwiel aangedrewe wa enige plek kon ry waar die 4x4 manne sou kon. Dis mos ’n kwessie van tegniek of hoe? Die bakkie het ook baie funksioneel gewerk. Ek het ’n paar vragte tussen die Kaap en Gauteng in my studente dae karwei en met redelike gemak selfs ’n sleepwa gesleep. Die bakkie het eendag egter sy einde bereik toe hy sonder Elia in vlamme opgegaan het. My pa ontferm hom toe ’n paar maande later oor my en bemaak sy platkar, ’n baie populêre model uit Japan aan my.

Toe ek later van tyd begin werk, was die enigste praktiese ryding ’n bakkie. Vir al die projekte waarmee ek besig was en plekke war ek moes kom, sou net ’n bakkie my kon bring. Daarvoor skaf ek toe ’n Isuzu aan, wat my enkele maande gehou het, voor die my in twee jaar se intensiewe skuld gedompel het weens ’n gekraakte silinderkop.
Om die skade te betaal moes ek toe maar vir my ’n goedkoop, betroubare bakkie kry. Die keuse was daarom ’n Nissan 1400; daai legendariese bakkies wat Suid-Afrika in standgehou het en steeds ’n groot bydrae daarin lewer. Met daai bakkie was ek ook in ’n paar gate in waarin ek seker nie moes nie, maar ek het elke keer daar uitgekom. Ek kon egter nie baie mense in hom laai nie, wat saam met die projekte, toenemend van meer belang was. Ek moes dus begin kyk na ’n dubbel-kajuit. Ekstra sitplekke vir passasiers en ’n bak vir werk.
Ek het toe begin soek en besef dat as ek hard genoeg gaan soek, gaan ek saam met die dubbelkajuit bakkie, dalk nog ’n droom bewaarheid, naamlik ’n 4x4 bakkie. Ek kry toe ’n absolute winskoop. ’n Dubbelkajuit bakkie, met relatief min kilo’s vir sy jare, met 4x4 en ’n paar ander goed wat dit net lekker gemaak het. Werk het daai bakkie nou al gewerk! Mense, goed, projekte, trek, vakansie en nog ’n klomp goed wat jy aan kan dink het daai bakkie nou al gedoen. Hy is baie effektief en bruikbaar, maar hy is ook goed vir daai miere in my klere.

Verlede jaar kry ek ’n geleentheid om ’n Pajero te bestuur vir ’n ver ent met een van my projekte. Ek moes die kar vol kinders laai en ’n sleepwa sleep. Net daar raak ek totaal en al versot en verlief. Al my stereotipes oor 4x4 stasiewaens het daar en dan versplinter in fyn stof en die plannetjies om een te kry, het begin ontkiem.
Nou-die-dag sit ek en administrasie doen, waar ek sien dat my bakkie amper afbetaal is. Die gedagte krap mos op daai oomblik waar dit nie werklik jeuk nie: hoeveel sal ek moet leen om ’n Pajero te koop, indien ek my bakkie sou verkoop? Wat ek weldra uitvind is dat dit nie te veel sal wees nie, maar dat ek nie die bakkie vir sy volle waarde sal kan verkoop soos hy nou staan nie, aangesien daar enkele goedjies is wat bietjie aandag kort. Soos ek die saak oordink besef ek ook die bakkie sien om na al die noodsaaklikhede wat ek aan ’n voertuig het, maar ook ’n paar behoeftes. Al wat ’n Pajero beter sou doen, is om nog ’n paar behoeftes aan te spreek en nie noodwendig meer noodsaaklikhede nie.

Die punt is op die ou end, dat ek myself vir ’n paar oomblikke oortuig het dat ’n behoefte ’n noodsaaklikheid is. Indien ek die behoefte sou bevredig, kon dit dalk ’n paar noodsaaklikhede in gedrang gebring het, deurdat ek nie noodwendig daarvoor geld beskikbaar sou hê nie.

So oortuig talle mense hulself dat behoeftes noodsaaklikhede is. Hulle spandeer dan soveel geld aan die behoefte, dat noodsaaklikhede daaronder begin lei. Is dit nie dalk waar die Amerikaanse en Europese skuldkrisis vandaan kom nie? Ons moet dalk behoeftes op hul plek sit en eers aandag aan noodsaaklikhede gee. So maak ons dalk die wêreld ook ’n beter plek…

Wednesday, August 3, 2011

Boetman I

Boetman I


Een dag, vroeër in hierdie week, ry ek na die plek waar ek baie kere besig is. Ek het die gewoonte om hierdie rit met my bergfiets af te lê en ek doen dit weens verskeie goeie redes (hoewel sommige van my vriende dink dis ’n slegte gewoonte). Een van die goeie redes is omdat dit my help om my kop bietjie in orde kry en bietjie met die Here te gesels oor van die goed wat baie spasie in my kop opneem.
Op hierdie spesifieke mooi wintermôre was dit nou ook die eerste keer in ’n wyle wat ek hierdie rit doen en ek dink toe nou aan die laaste paar weke voor k die rit die laaste keer onderneem het. En daar staan toe nou so paar suur gebeurtenisse vir my uit. Jy weet, daai suur wat jy kry wanneer jy so vet, amperse roes-oranje naartjie, met ’n skil wat sommer in sulke gewillige velle aftrek, skil en die verwagte soet vitamien C-nektar is askorbiensuur wat jou kiewe so trek dat jou mond en jou oë self nie regop kan bly nie. Daai suur wat jou solank laat soek na ’n Rennie as jy weet die asyn oor jou slaptjips gaan chemiese brande in die distrik van jou maagwand laat opvlam. Daai suur kry ek toe, daar op my fiets, op die R304, skuins na 08:00 in die môre, sonder enige suur naby my lippe.
Ek moes paar weke vantevore preek voor my klas. Die tema wat ons toe nou kry, het iets met God en sy herskepping te doen en ek kry Spreuke 8. Dit handel nou oor Vrou Wysheid wat haar verheug in God se skepping, maar meer nog die mensekind wat saam met haar in die skepping van God moet speel. So trek ek nou die lyn daarna dat speel saam met Vrou Wysheid in die skepping beteken dat jy bietjie moet speel met idees oor hoe om meer groen te lewe. So neem ons speel-speel deel aan hoe God die aarde daagliks nuut maak.
Ek raak toe nou ook prakties en dit lyk my is ’n baie dun stukkie ys om op te skaats in die akademiese teologie. Een van my (byna) tien voorbeelde is toe om jou outomatiese wasmasjien se kleinste moontlike verstelling vir die bondel te gebruik. Na die tyd sal die een dosent my mos nou aanvat oor ek die voorbeeld gebruik, want ek neem nou kwansuis nie my konteks in ag nie. Daar mag dalk iemand in die klas sit wat nie ’n outomatiese wasmasjien het nie. Die volk wat toe nou voor my sit is een Duitser, een Amerikaner, 18 wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, een kleurling en een Xhosa broeder. Nou sê vir my, wie bedoel meneer professor nou was nie klere met ’n masjien nie? (Hy het natuurlik gedink hy is oulik en vryf ons Xhosa-broeder se agterwêreld blink.) Eerstens was die eersgenoemde 21 definitief almal met ’n outomatiese wasmasjien, al is dit een wat eers ’n paar R5’de insluk voor hy met ’n gerammel en gedans jou kleertjies skoon skud. Indien ons Xhosa-broeder sy wasgoed met die hand was, was hy dit verseker nie met Sunlight, Omo of Surf nie, want daai lot seep het almal so kenmerkende geur wat amper geen versagter kan verbloem nie en ons Xhosa-broeder se klere het nog nooit daarna geruik as ek langs hom gaan sit het nie. So eintlik het Proffie vir ons Xhosa-broeder gesê: “Jy is arm, agterlik en was nie jou klere nie.” Rassis, as jy my vra. Selfs al het hy sy klere met die hand gewas, was daai voorbeeld in die konteks van die meerderheid van die klas gepas.
Waaroor ek toe nou so suur was, was die feit dat hierdie geleerde proffie met sy opmerking toe nou waag om vir my ’n veel swakker punt as ’n groot persentasie van my kollegas te gee. As ek nou ’n klomp wol gepraat het, was hy welkom, maar nou was een van die ander proffies se opmerking juis dat ek amper die enigste ou in die klas was wat by die tema gehou het. Suur, suur, suur…
My preek het ook juis gehandel oor hoe ek nou in die skepping van God rondspeel deur bietjie fiets te ry. Een van die redes hiervoor is dat ek die voëls langs die pad bietjie kan dice, maar meer eintlik om petrol te spaar, vir my beursie en my koolstof skoen.
Hierdie mooi oggend merk ek toe nou juis op hoeveel mense enkel en alleen in hul karre daar op die R304 sit. Na ’n tyd het ek al die jaagduiwels wat verby my geskreeu het weer ingehaal. Toe raak ek kwaad, want ’n klomp van daai mense sit in hul motors want hulle hou te veel van gemak. Dis daai kalante wat eerste kla oor die brandstof wat deesdae so duur is. Dis ook dieselfde kalante wat kla oor hulle so vet raak en nie tyd het vir oefen nie. Dis vir hulle wat ek sou voorstel, gryp jou fiets, maar dis hulle wat elke dom verskoning in die boek sal uithaal om eerder met hul karretjie te ry en almal nander die skuld daarvoor te gee.
Toe trek my kiewe weer so op in my kake. Dis dieselfde moeilikheid met die politiek. Die swartes sê dis Apartheid se skuld dat die land lyk soos hy lyk, terwyl ander weer sê dis ons huidige regering se skuld. Niemand is bereid om op te staan en te sê: “Hier waar ek nou is, gaan ek moeite aan ons land doen.” nie. Maar dit word dalk nou die volgende storie…

Thursday, June 9, 2011

Genade verniet II

Die wonderlike ding van die NG Kerk is dat ons elke jaar Pinksterdienste hou. Pinkster is mos die viering vand ie uitstorting van die Heilig Gees en hoe dit die eerste kerk geaktiveer het. Die Heilige Gees is die gestalte van die lewende Jesus wat nou beskikbaar is vir elke mens. Jesus wat deur sy Gees by ons lewe bring in die eerste plek Jesus se verlossing deur die kruis en opstanding na ons waar ons is. Die significance daarvan is dat dit ons help om nou, elke dag in 'n verhouding met ons Skepper te leef. Die verhouding met ons Skepper help ons deurdat ons elke dag deur Hom geleidelik hervorm word na die mens wat Hy ons gemaak het om te wees.

Jesus wat ons hervorm nooi ons uit om saam met Hom te leef. Hy nooi ons uit om saam met Hom te wandel. Hoe wandel ons saam met Hom? Ons raak stil en leer uit die stories wat Hy vir ons laat opteken het in die Bybel. Dan kyk ons na ons eie lewe en laat toe dat Hy vir ons wys hoe Sy stories en ons storie ooreenstem en hoe Jesus ons storie wil deel maak van sy storie.

Dan sien ek myself raak in Petrus wat op die water probeer loop en hoe Jesus uitbundig lag wanneer hy sink. Nie lag oor dit vir Hom snaaks is nie, maar lag omdat Hy opgewonde is oor Petrus se probeerslag.

'n Lewe saam met Jesus is oefen. Die struktuur en grense is soos 'n gym-oefenprogram. Jy moet sekere oefeninge doen om sterker te word in sekere spiere om sodoende sekere bewegings te kan doen. Jy moet sekere bewegings en tegnieke herhaaldelik doen om dit reg te doen. In die proses raak jy seer en styf, want jou spiere is nie gewoond daaraan nie. Jy kry dit nie elke keer reg nie. Jesus help jou om te oefen.

Genade is juis dit: Jesus help jou op wanneer jy dit nie regkry nie. Hy moedig jou aan om weer te probeer. Hy gee raad oor hoe om dit anders te doen.

Hoe jy die helpende hand ervaar is deur die kerk, sy instrument. Hoe jy die aanmoediging hoor en die raad kry is deur elke dag by Jesus se voete te gaan rus en luister.

Genade verniet, oor my uitgegiet...

Monday, April 25, 2011

Genade verniet

Genade verniet. Dis die titel van 'n liedjie deur C#, deesdae 13th floor. Dit handel basies oor Jesus Christus se genade wat verniet aangebied word vir mense, wat hulle verlos van hul sonde en alles wat hulle terughou daarvan om die volledige mens te wees wie God hulle geskep het om te wees.

Dis verniet.

Die Bybel leer ons dat daar niks is wat ons kan doen om hierdie genade te verdien nie. Dit is net beskikbaar. Wie ook al dit wil hê moet dit net in ontvangs neem by God, want dit is reeds geskenk.

Tog twyfel ek soms hieraan.

Niks in die lewe is verniet nie. Dit was nog nooit so nie en daar is geen kans dat dit ooit so sal wees nie. Soms verstaan ek dit dat die genade net 'n lokval is om mense te kry om deel van die kerk te word, sodat 'n dominee of pastoor slim kan klink en jou kan manipuleer om sy leefstyl te onderhou. As jy in die eerste plek glo in die verniet genade word jy in 'n kopklem gedruk om opofferings te maak en aanvaarbaar te leef volgens die gedragskode uit die Bybel.

Ek klink sinies,of hoe?

Die konsep van verniet genade is vir my mooi. Tog kan ek dit nie op die oomblik versoen met wat in my gebeur nie. Die Bybel leer ons dat die genade jou vry maak om te leef. Die lessie is juis gewoonlik dat genade jou bring om binne die grense te lewe, sodat jy daarbinne jou potensiaal kan bereik. Tog vind ek my 'leef' nie as vryheid nie. Ek voel ingehok en beperk. So of ek 'n leeu in 'n Uno is of 'n arend in 'n budgie-hok.

So, is ek te groot of die grense te klein?

Ek weet verseker Jesus is Heer. Hy het my sonde uit liefde vergeef. Maar, hoekom voel ek so k@k wanneer ek verkeerd doen? Hoekom is so baie goed wat ek doen verkeerd? Hoekom laat dit my nie vry nie?