Wednesday, September 16, 2015

PASOP om met HOOGMOED te preek

Ek het na aanleiding van my laaste preek 'n anonieme briefie gekry met die eerste woorde: "Dink wat mens van 'n preekstoel af sê... PASOP om met HOOGMOED te preek." Die inhoud van my preek het gehandel oor die positiewe effek van aanraking, en dat dit 'n manier is om ander mense, veral kinders met menswaardigheid te behandel. (Luister gerus daarna by SoundCloud
) Die persoon het gevoel dat ek onsensitief was teenoor mense wat nie in 'n gesin groot geword het nie, wat dalk in 'n enkelouer huis of in 'n Kinderhuis groot geword het. Ek kan verstaan dat my aanhaling van navorsing oor breinontwikkeling en verwaarlosing/ aanraking dit tot gevolg kon hê. Ek kan ook verstaan dat hier 'n persoon dus in die erediens gesit het wat so gebroke agtergrond gehad het, wat iets gehoor het wat seer gemaak het en dit beleef het dat ek hoogmoedig preek. Ek twyfel of die anonieme persoon hierdie gaan lees, maar ek moet in die openbaar baie nederig om verskoning vra. Ek is regtig jammer dat ek iets op 'n manier gesê het wat jou (en waarskynlik ander) seer gemaak het. Ek is geweldig jammer oor jou seer en my aandeel daarin. Vergewe my asseblief. My bedoeling was om, iets te sê en ons gemeente bewus te maak van geleenthede onder ons oë om, gehoorsaam aan God te wees, want soos jy dit stel "God se genade en Sy kragtige werking, maak hulle (kinders wat verwaarloos, mishandel, in enkelouer huise en/of in institusionele sorg groot geword het) breine sterk en groot genoeg om GROOT geleenthede te hanteer." Ek is jammer dat ek dit nie met die nodige balans en omsigtigheid hanteer het nie. Ek moes baie meer oor "Childhood Resilience" gepraat het (ek het dit aangeraak) wat die teorie is wat verduidelik hoekom kinders deur sulke omstandighede kan kom en sterk suksesvolle mense kan wees, ten spyte van baie minder as ideale omstandighede. Een van die goed wat ek graag met die gemeente wou deel is juis dat wanneer ons wat in "goeie omstandighede" leef kinders ontvang in ons motors en huise en ons hulle goeie konstruktiewe aandag gee ons kan optree soos Jesus optree en van ons vra in Matteus 19:13-15 “Laat die kinders begaan en moet hulle nie verhinder om na My te kom nie, want die koninkryk van die hemele behoort aan mense soos hulle.” Ek het juis probeer om ons lidmate te motiveer om bewus te wees daarvan dat elkeen 'n rol daarin kan speel as God se instrumente om gebroke jongmense "sterk en groot genoeg" te maak. Ek is jammer dat ek dit nie duidelik genoeg gemaak het nie. Ek hoop regtig dat jy verstaan dat ek baie jammer is daaroor dat my boodskap onduidelik was. Ek neem jou waarskuwing baie ernstig op. Ek onderneem om met baie groter sensitiwiteit en sorg oor hierdie goed voor te berei en ek bid dat Jesus deur sy Gees lidmate sal help om mense te wees wat gebrokenes sal ontvang, maar ook aktief 'n rol sal speel om Jesus se ontvanklikheid en liefde vir kinders aan hul velle te voel.

No comments:

Post a Comment