Monday, June 8, 2015

Vergifnis

Datum: 7 Junie 2015
Erediens: Aanddiens
Prediker: Christi Thirion
Reeks:
Tema: Vergifnis
Teks: Matteus 18:21-35

Inleiding:
Vergifnis is een van die moeilikste temas om te hanteer, alhoewel dit een van die mees basiese uitvloeisels van Jesus se werk op aarde was. Ons almal is in ons koppe redelik eenstemmig oor Jesus wat ons sondes vergewe en dat ons dit elke dag nodig het.

Ons haak egter taamlik maklik vas wanneer ons moet vergewe. ek vermoed dat vergifnis vir hom ’n sensitiewe saak was. Ek kry die idee dat dit vir alle mense ’n sensitiewe saak is. Wanneer ons doelbewus moet vergewe, is dit baie kere omdat iemand seerkry in ons lewens veroorsaak het. Vergifnis kos ook altyd dat ons weer aan daardie seerkry, moet dink en daarom wil ons ook die basiese doen, sodat ons vir Jesus kan tevrede stel. Ons is soek in ons vergifnis ’n bare minimum.

In ons teksgedeelte vanaand lees ons hoe Petrus vir Jesus kom vra het vir ’n bare minimum vir vergifnis.

Skriflesing:
Matteus 18:21-35 (NLV)
21Daarop kom vra Petrus Hom: “Here, hoeveel maal moet ek ’n medegelowige vergewe wat iets verkeerds teen my gedoen het? Selfs tot sewe maal toe?”
22“Nee,” verseker Jesus hom, “nie tot sewe maal toe nie, maar tot 70 maal sewe toe!
23“Om hierdie rede kan God se koningsheerskappy vergelyk word met ’n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld. 24Skaars het die ondersoek begin of een word na hom toe gebring wat hom miljoene rande skuld. 25Toe hy dit nie kon bybring nie, gee die koning opdrag dat hy, sy vrou en sy kinders en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. 26Hy val toe voor die koning neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan u terugbetaal.’ 27Daarop het die koning hom innig jammer gekry. Hy het hom laat gaan en sy skuld afgeskryf.

28“Toe die amptenaar daarvandaan weggaan, loop hy egter een van sy medeamptenare raak wat hom net ’n paar rand geskuld het. Hy gryp hom toe aan die keel en sê: ‘Betaal jou skuld!’ 29Sy medeamptenaar val toe voor hom neer en smeek hom: ‘Gee my kans, ek sal alles aan jou terugbetaal.’ 30Maar daarvan wou sy skuldeiser nie hoor nie. Hy is daar weg en het hom in die tronk laat gooi, waar hy sou moes bly totdat hy al sy skuld afbetaal het.

31“Toe sy medeamptenare sien wat gebeur het, was hulle uitermate ontsteld. Hulle het alles wat gebeur het toe aan die koning gaan vertel. 32Daarop het die koning daardie man laat roep en vir hom gesê: ‘Jou ellendige vent! Toe jy my gesoebat het, het ek vir jou al jou skuld afgeskryf. 33Moes jy jou nie ook oor jou medeamptenaar ontferm het soos ek my oor jou ontferm het nie?’ 34Woedend het die koning hom toe oorgegee aan die folteraars om elke sent uit hom te pers totdat hy al sy skuld betaal het.

35“So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle weier om julle medegelowiges met julle hele hart te vergewe.”

Vergifnis is ’n prioriteit!
In Matteus kry ons vyf groot uitsprake of leringe van Jesus. Die bekendste is die Bergrede in Matteus 5-7 en die Profetiese rede in Matteus 23-25. Hierdie teksgedeelte staan in nog een van hierdie groot leringe in Matteus 18-19. Matteus was waarskynlik ’n Jood en hy het hierdie Evangelie vir Jode geskryf. Die Jode se manier van skryf, veral oor leringe, was om die belangrikste punt in die middel te maak en dan rondom daardie punt verder en verder te borduur.

Hierdie teksgedeelte oor vergifnis staan in die middel van hierdie lering gedeelte en dit is omdat vergifnis ’n kritiese prioriteit is. Dit is so belangrik dat die Nuwe-Testamentikus, Tom Wright, vergifnis vergelyk met asemhaling:
“Forgiveness is more like the air in your lungs. There’s only room for you to inhale the next lungful when you’ve just breathed out the previous one.”

Dit help ons dan ook om die tema en die teksgedeelte te verstaan. Soos ek reeds gesê het, is vergifnis baie naby aan die kern van die Evangelie. Ons verstaan Jesus se doel op aarde om, in die eerste plek God se liefde vir die Skepping te kom wys en in die tweede plek deur die kruis en opstanding, die pad van vergifnis oop te maak. Jesus se boodskap in die Evangelie is dat God ons sonde vergewe, want as gevolg van ons sonde. In die gelykenis word dit vergelyk met skuld:
“God se koningsheerskappy (kan) vergelyk word met ’n koning wat besluit het om na te gaan wat sy amptenare hom skuld.”
In die gelykenis word God met ’n koning vergelyk en ons, Jesus se volgelinge, word met die koning se amptenare. In die gelykenis moes al die amptenare op een of ander manier rekenskap gee, met ander woorde, almal was verantwoordbaar voor die koning vir iets.

Net so is ons almal verantwoordbaar voor God. Paulus skryf in Rom. 3:23 “Almal het gesondig en het nie deel aan die heerlikheid van God nie...” Die meeste van ons wat hier sit is baie deeglik bewus daarvan dat ons diep in die skuld vir ons sonde en gebreke voor God staan. Ons almal is al een of ander tyd drasties gekonfronteer deur die realiteit dat ons niks aan ons eie gebrokenheid kan doen nie en dat die enigste uitkoms en oplossing God is, Jesus is, die verlossing deur sy dood en opstanding, die vergifnis van ons sonde. Elkeen van ons het ’n storie waar ons bewus geraak het dat Jesus die las van ons afhaal en ons skielik lig en lewendig voel.
Ons kan ons in die gelykenis inleef. Ons kon die benoudheid, kortasem, nat handpalms en trommel-hart van die amptenaar voel. Ons kon almal op ’n manier identifiseer met die berg skuld en die magteloosheid dat ons niks daaraan kan doen nie.
Ons ken aan die ander kant ook die verligting. Ons ken die gevoel wanneer die spanning uit ons nekke uitvloei, hoe die angstige bedompigheid verdamp voor die vars lug van verligting. Ons het almal ’n storie waar Jesus deur sy Gees dit met ons gedoen het.

Die vereiste: Doen dit ook so
Ds. Willem het in sy Pinksterreeks die hele tyd die punt gemaak dat Jesus volgelinge wil hê en nie bewonderaars nie. Volgelinge van Jesus doen die dinge wat Jesus doen. Wat doen Jesus aan die kruis met die Jode wat hom aangekla het en die Romeine wat hom tereggestel het? Hy bid: “Vader, vergeef hulle...” (Luk. 23:34)

Die enigste vereiste wat Jesus oor vergifnis stel is dat ons ook vergewe. Terug by Tom Wright se aanhaling: “Forgiveness is more like the air in your lungs. There’s only room for you to inhale the next lungful when you’ve just breathed out the previous one.”

Wanneer ons tegnies raak oor die pad van vergifnis, moet ons weet dat Jesus ons eerste vergewe. Hy neem die inisiatief en maak ons los van ons sonde. Dan, soos asem werk, kan jy dit nie inhou nie. Vergifnis is iets wat herhalend en aanhoudend gebeur, want in die eerste plek elkeen van ons is gebroke en in die tweede plek elke ander mens is gebroke. Ons het, ten spyte van Jesus se volmaakte vergifnis, elke dag sy volmaakte vergifnis nodig, want elkeen van ons doen elke dag sonde. Maar, soos ons elkeen elke dag sonde doen, so doen mense elke dag sonde aan ons. So vergifnis is so gee-en-neem soos inasem en uitasem. Dit is die toestand waarin ons bestaan.

Tog loop baie van ons rond met opgehoue asem. Hoe lank kan jy jou asem ophou?

Hoe werk vergifnis?
Desmond Tutu verduidelik dat iemand wat nie vergewe nie, hulself blootstel aan verhoogde vlakke van angs, spanning en depressie, wat lei tot slapeloosheid, hoër bloeddruk, maagsere, migraines, rugpyn, wat kan lei tot hartaanvalle, kanker en ander leefstyl-siektes. Ons geestelike toestand het ’n direkte effek op ons fisieke toestand. Om iemand werklik te vergewe maak die teenoorgestelde ook waar. Ons liggame kan gesond word wanneer ons vergewe.

Saam met ons liggame het vergifnis ’n invloed op al ons verhoudings. In die gelykenis sou die koning die amptenaar se hele gesin verkoop om sy skuld in te vorder. Die oomblik toe die koning die skuld afskryf, toe het die amptenaar se gesin ook hul vryheid. Ek het in die tyd wat ons in die Connect Groepe besig is met hierdie reeks agtergekom dat van ons diepste seerkry van ons families van oorsprong kom. Wanneer ons nie vergewe nie, kom ons nie by die mense wat ons seergemaak het nie. Dit maak dat ons kinders, wat niks met die seerkry uit te waai het nie, nie noodwendig ooms en tannies en niggies en nefies leer ken nie. ’n Hele familie kan vir mekaar vreemdes word in sulke omstandighede.
“Anger and bitterness do not just poison you, they poison all your relationships.”

Tutu gaan vêrder om sê: “The one who offers forgiveness as a grace is immediately untethered from the yoke that bound him or her to the person who caused the harm. When you forgive, you are free to move on in life, to grow, to no longer be a victim."

Vergifnis gaan dus in baie omstandighede nie eers oor ander mense nie, maar oor jouself. Die lewe in oorvloed waarvan Jesus in Joh. 10 praat is een wat oor oorvloedige kwaliteit lewe gaan. Dit gaan oor vreugde en liefde en jy en jou mense wat hul volle potensiaal ontgin, omdat ons uit en deur vergifnis kan leef.

Maar vergifnis is nie maklik nie.
Wanneer Jesus sê ons moet tot 7 maal 70 keer vergewe wys dit vir ons dat vergifnis nie een keer afgehandel is nie. Die goed waarvoor ons mense doelbewus moet vergewe maak seer. Elke keer wanneer ons herinner word aan die seerkry geleentheid moet ons weer van vooraf vergewe. Ons moet vergewe en vergewe en vergewe en vergewe, totdat die herinnering aan die gebeurtenis ons nie meer seermaak nie.

Tutu sê daaroor dat "Ultimately, forgiveness is a choice we make...” Dit is ’n aktiewe proses waardeur ons die dinge wat ons seermaak in die gesig staar. Dit beteken dat vergifnis krag en dapperheid vra, wat ons nie altyd dink ons het nie. Goed wat ons seermaak maak dat ons baie kere meer identifiseer met dood en verlies, maar Jesus het uit die dood opgestaan. Die krag van Jesus se vergifnis kom juis daaruit dat die doodsheid van ons skuld Hom nie in die graf kon hou nie. Hy gaan face sy dissipels toe hy opstaan en in plaas van oordeel groet hy hulle elke keer met “Vrede vir julle!” en “Moenie bang wees nie.”

Ons moet ook weet dat vergifnis nie beteken om te “vergeet” nie. Sewe maal 70 keer vergewe sê vir ons dat ons nie vergeet nie. Dit sê vir ons, ons onthou dit anders.

Hoe vergewe ons?
Ons gaan nie lank hierby stilstaan nie, want ons hanteer hierdie tema op die oomblik in die Connect Groepe. Desmond Tutu stel ’n vier-voudige reis van vergifnis voor. In die paar verse voor ons teksgedeelte sien ons ook iets hiervan raak.

Die eerste ding is om die storie te vertel. Jy kan begin deur dit vir iemand naby aan jou te vertel, maar jy moet die storie vertel. Tutu sê dat jy hier net by die feite moet hou. Jy moet dit so eenvoudig moontlik doen. Dit help ons om die storie uit te kry. Dit help ons om die storie makliker in sy geheel te sien.

Jy kan ook oorweeg om die storie te vertel vir die een wat jou seergemaak het. Baie kere besef die persoon nie eers dat iets wat hulle gedoen het jou seergemaak het nie. Soms is die persoon wat jou seergemaak het se houvas so erg op jou dat jy dit nie persoonlik kan doen nie en dan kan jy ’n brief skryf. Die punt bly egter: vertel die storie.

Die volgende ding om te doen, is om te sê hoe jy voel. Vir mans veral is dit moeilik. Die meeste van ons voel is net bewus van kwaad, maar kwaad is ’n sekondêre emosie. Kwaad staan gewoonlik op vrees en onvervulde verwagtings. Dit beteken dat jy moet gaan dink oor watter vrees-verwante emosie die seerkry by jou losgemaak het of watter verwagting jy gehad het wat nie vervul was nie. Hoewel die uitsonderings baie is, is die vrees-emosies meestal te make met een of ander vorm van geweld of trauma teen jou en die onvervulde verwagting baie kere te doen met iets wat vir jou sekuriteit moes gee.

Die volgende deel van die reis is om vergifnis te gee, deur doelbewus aan ’n nuwe storie te dink. Hoe skryf jy van hier af ’n nuwe storie vir jouself en die oortreder. Jesus het na sy opstanding dit gedoen.

In Johannes 21 lees ons hoe hy dit in besonder met Petrus doen wanneer Jesus vir hom drie maal vra “Het jy my lief?” As Petrus dan ja antwoord, gee Jesus vir hom die nuwe storie: Laat my lammers wei, pas my skape op en laat My skape wei. Jesus se nuwe storie met Petrus was om verantwoordelikheid te neem vir die kerk na Jesus se hemelvaart en uitstorting van die Gees. Daarna sien ons ook dat Jesus die vierde deel van die reis met Petrus neem, naamlik om die verhouding te vernuwe.

Die verhouding moet of vernuwe of bevry word. Om die verhouding te vernuwe beteken dat ons dan in die nuwe reis saam met die persoon stap. Ons begin die pad van die nuwe storie loop en werk saam met die een wat ons seergemaak het om ons albei se lewe nuut te maak.
Dit is egter nie altyd moontlik vir ons om dit te doen nie. Soms moet ons ’n verhouding laat gaan ook. In Matteus 18:17 sien ons dat wanneer die persoon na ’n paar pogings nie die nuwe storie wil of kan leef nie, ons die persoon moet laat gaan. Ons moet ons bande met die persoon breek. Vergifnis beteken nie altyd dat die persoon wat ons seermaak in ons leef-spasie toegelaat moet word nie. Soms is dit noodsaaklik vir ons eie oorlewing om met ’n nuwe storie sonder daardie persoon voort te gaan.