Sunday, February 22, 2015

Die reis van gebed

Datum:22 Februarie 2015
Erediens:Aanddiens
Prediker:Christi Thirion
Reeks:Lydenstyd – Lukas Reisverhale
Tema: Die Reis van Gebed
Teks:Lukas 11:13; Lukas 18:1-8, 9-14

Keers-ritueel (Blaas een van die 7 Lydenstyd Kerse dood)
Votum: Psalm 25:4-5
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.

Seëngroet
Genade en vrede vir julle van God ons Vader en ons Here Jesus Christus

God hoor ons:
Lofprysing en aanbidding:
Psalm 150
Blessed Be Your Name
Oceans (Where feet may fail)
Ek smag na U

God praat met ons:
Skriflesing: Lukas 18:1-14
1Hy het vir hulle ’n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid – en nie moed te verloor nie. 2Hy het gesê: “Daar was ’n sekere regter in ’n bepaalde stad wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. 3Daar was ook ’n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 4 ’n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink, ‘Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, 5sal ek omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my nog gedaan maak.’”
6Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê. 7Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat dag en nag na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
9Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10Twee mense het opgegaan na die tempel om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en so oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg en ook soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week en ek gee ’n tiende van alles wat ek verdien. 13Die tollenaar het egter op ’n afstand bly staan en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar genadig!’
14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar hy wat homself verneder, sal verhoog word.”

Preek:
Inleiding: Soos mense bid, so glo hulle, so lewe hulle.

In die vroeë kerk was daardie gesegde: “Soos mense bid, so glo hulle, so lewe hulle.” Ons sien in hierdie twee stories wat Jesus vertel dat mense se gebed verklap hoe hulle glo en saam met God lewe. Ek het in die laaste paar weke, weer agtergekom dat die manier hoe ons samelewing dink oor gebed en God eintlik skaduwees is van dit wat werklik gebed is en wie God is.

Sowat tien jaar terug het die Amerikaanse sosioloog Christian Smith, ’n uitgebreide langdurige studie gedoen oor wat die gemiddelde Amerikaner glo. Hy noem die manier waarop Amerikaners glo “Moralistic, Therapeutic Deism”. Sy opsomming daarvan was die volgende:
"God created the world."
"God wants people to be good, nice, and fair to each other, as taught in the Bible and most world religions."
"The central goal of life is to be happy and to feel good about oneself."
"God does not need to be particularly involved in one's life except when God is needed to resolve a problem."
"Good people go to heaven when they die."

Die beelde van God wat mense in hul koppe vorm laat God dan lyk soos of ’n ou man met ’n wit baard, wat lank gelede alles gemaak het, maar intussen Alzheimer’s gekry het en van ons vergeet het; of dat God meer soos Aladdin se genie in die lamp is; of dat hy my buddy is wat sorg dat dinge een groot partytjie is. Wanneer ons dan vanuit hierdie beelde in ons koppe bid, lyk ons gebede baie soos die volgende: Skit Guys video

Weet wie God is, weet wie jy is
Ek wil bietjie agteruit werk met ons teks. Die tweede gelykenis wat Jesus vertel, vertel die storie van twee mans. Albei het ’n sekere prentjie van God in hul koppe, wat bepaal hoe hulle hulself, in verhouding met God verstaan.

Die Fariseër het ’n prentjie van God wat basies net mense wat goeddoen seën en mense wat sleg doen straf. Die Fariseërs was bekend daarvoor dat hulle ouens was wat die wet van Moses baie prakties gemaak het en uiters getrou daaraan geleef het. Hulle was oortuig daarvan dat as hulle die wet goed genoeg kon gehoorsaam en hulle die res van die Jode kon oorhaal om dit reg te kry hulle God se guns sou kon wen. Met God se guns sou hulle die Romeine uit Juda kon verdryf en weer die koninkryk van Israel, soos in Dawid se era kon vestig.

Maar let op die inhoud van die gebed: Die Fariseër bid oor homself. EK is dankbaar dat EK nie sleg is nie. EK is ’n goeie mens en daarom moet God na MY luister. Die doelwit van die gebed was nêrens om God te ken of deur God gebruik te word of om God se plan te laat gebeur nie.

Die Fariseër het vir God gesien, soos ons na ’n lekkergoed masjien kyk. Wanneer jy die regte geld ingooi en die regte knoppies druk kry jy wat jy soek. Hy wou vir God betaal met goeie dade en God se knoppie druk met godsdienstige rituele sodat God vir hom kon gee wat hy wou hê. Die Fariseër het homself as die een in beheer gesien en hy kon vir God manipuleer en beheer deur sy gebed.

Die tollenaar aan die ander kant het besef dat God groot, heilig en volmaak is. Die tollenaar was waarskynlik skatryk as gevolg van sy skelmstreke, maar hy het dalk agtergekom dat alles wat hy het nie naastenby genoeg is om te betaal om eers God se aandag te kry nie. In die lig daarvan het die tollenaar waarskynlik besef dat hy, met sy skelmstreke so klein voor God is, dat al manier hoe God enige aandag aan hom sou gee, sou wees as God genade aan hom bewys.

Wat Jesus vir ons wil leer oor gebed is dat wanneer gebed oor “MY” gaan, ek waarskynlik teleurgestel gaan word. Met die “EK” fokus van gebed wil ons handvatsels op God sit, sodat ons hom in ons lewens kan intrek en hy dit waarmee besig is seën. Dit is egter nie waaroor gebed gaan nie.

Wanneer Jesus sy dissipels leer bid, leer hy hulle om te vra vir God se wil en dat sy koninkryk sal kom. Jesus leer sy dissipels dat daar ’n belangriker agenda as hul eie is. God se agenda is die fokus. In die Matteus-weergawe gaan Jesus verder en leer sy dissipels dat wanneer hulle so bid en soek vir God se koninkryk as hul hoogste prioriteit God sal sorg. Hy leer hulle dat wanneer hulle hul eie lewe opgee, ter wille van sy agenda, dan sal hulle die ware lewe ontvang.

Wat ek daar tussen die lyne lees is dat wanneer hulle eie gebedslyste weggooi en vir God vra vir wie Hy is en wat sy wil is ons onsself in ’n ander lig gaan sien. Ons gaan agterkom dat God so groot is dat ons nie sommer ’n handvatsel op hom sal kan kry nie. Ons gaan agterkom dat God se wil, sy begeerte, is om met ons in ’n verhouding te leef. In die verhouding gaan ons agterkom hoe ons sonde en gebrokenheid ons eintlik op ’n plek bring waar ons besef ons geen reg het om na God te kyk in gebed nie en dat ons niks anders kan vra as vir sy genade nie.

Die wonderlike is dat Jesus vir ons wys dat ons vir veel meer kan vra as net genade.  

Moenie ophou nie
In die eerste gelykenis kom Jesus en hy wys vir ons dat al het ons geen reg om met hom te praat nie, mag ons.
Jesus vertel van ’n weduwee wat ’n koning vra om na haar saak te luister en ’n uitspraak te maak teen ’n opponent.

Jesus gebruik skok-taktiek.

Die kulturele gebruik was dat ’n vrou deur haar man na die ouderlinge van die gemeenskap moes gaan as sy ’n saak uitgesorteer wou hê. ’n Weduwee het nie daardie kanaal gehad nie. Dit was sosiaal onaanvaarbaar vir enige vrou om eerstens self haar saak te stel en tweedens om die sosiale rangorde oor te slaan en reguit na die koning toe te gaan. Vir enige vrou om met die koning te praat, sonder dat hy haar vra, kon maak dat daardie vrou voor die voet doodgemaak sou word.

Daar was egter, veral onder die Jode bietjie genade met weduwees, veral as dit mense was wat hulself aan die woord van God gesteur het. ’n Slegte koning sou egter niks gedoen het tensy hy direk daardeur bevoordeel sou word nie. Jesus sê egter dat selfs ’n slegte koning waarskynlik genade met ’n weduwee sal hê en indien dit die geval is, sal God, wat goed is mos genade met enige iemand bewys, veral as hul aanhou vra.

Een van die goed wat Jesus vir sy dissipels wil leer is dat God so positief oor die skepping en sy mense is dat enige mens met enige versoek na Hom toe kan gaan. Die slegte koning het nie lus om na die weduwee te luister nie; hy het nie lus om tyd aan haar af te staan nie; hy het waarskynlik sake wat hoër prioriteit is en meer aandag verdien.

God het verseker sake wat hoër prioriteit geniet as ons gebedsversoeke, maar God se hoogste prioriteit is ’n verhouding met elke mens. God sal met ’n glimlag na ons met ons selfsugtige gebedsversoeke luister as dit beteken dat hy genade aan ons kan bewys en vir ons kan leer dat Hy lief is vir ons.

Jesus vertel egter die storie met belangrike detail, wat ons nie moet miskyk nie. Jesus vertel dat ’n slegte koning reg sal laat geskied, met ander woorde, hy sal die regte ding laat gebeur. Net so sal God na ons gebede luister, maar sodat die regte ding sal gebeur. Wat baie kere vir ons voel soos God wat nie na ons gebede luister nie, is juis God wat ons wil help na “die regte ding” toe.

Baie kere kos dit dat ons met Hom moet stoei en worstel, selfs dat ons moet kerm en kla.

Ek onthou goed, toe ek ’n kind was, het ek en my boetie baie saam met my pa rugby gespeel op ons grasperk of ons het saans lekker gestoei op die mat in die sitkamer. Daai speel en stoei het baie kere in kopstamp geëindig of met ’n grass-burn of wat. Wat egter daar gebeur het, was dat ek goed van my pa leer ken het wat ek nie andersins sou nie. Ek het sy unieke reuk leer ken, ek het sy krag in sy spiere leer ken, ek het besef dat hy baie groter, swaarder en vinniger as ek was. Wanneer een van ons dan seergekry het, het ek ook sy sagtheid leer ken; so sterk as wat hy was, net so versigtig en sag kon hy my vashou en troos. Dieselfde met ons vra en kla. Ek het geleer dat lekkergoed voor ete nie ’n goeie idee is nie, maak nie saak hoe baie ek vra en selfs kla nie. Ek het in daardie proses geleer dat ordentlike kos baie beter vir jou energie vlakke is maar dat iets soet na ete, saam met die gesin gewoonlik een van die lekkerste lekker was en dat dit niks met die suiker uit te waai gehad het nie.

Deur worsteling, soos die gelykenis se weduwee, leer ons kante van God wat ons nie uit Bybeldagboeke, of net een keer ’n week se preek-luister sal leer nie. Om self te worstel leer ons God se heiligheid, sy grootheid en krag, maar ook sy genade, geduld en versorging. Ons leer deur worsteling goed van God wat ons nie eers mooi in woorde kan beskryf nie.

Die belofte
Vir die afsluiting van die boodskap wil ek terugspring na Lukas 11:13. Jesus leer sy dissipels bid, in die woorde van die Onse Vader en hy gaan deur ’n hele beskrywing van soek en klop en vra om te wys dat God gebede sal verhoor. Heel aan die einde sê Hy:
“As julle wat sleg is, dan weet om goeie geskenke aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die Hemelse Vader dan die Heilige Gees gee vir hulle wat Hom vra.”

Een van die moontlike bedoelings van die oorspronklike Grieks van hierdie vers is, dat elkeen wat van God vra, sal die Heilige Gees kry. Met ander woorde, maak nie saak wat jy vir God vra nie, wanneer jy hom aanroep het jy sy volle aandag en sy volle teenwoordigheid deur sy Gees.

Met jou doop het Hy daardie belofte gemaak.

God herinner ons
Nagmaal
Stel Nagmaal in en gebruik dit
Vanaand met die Nagmaal kom herinner Hy ons hieraan en dat dit vas bly staan, maak nie saak watter sonde ons intussen gedoen het nie.

Vriende, die nagmaal moet ons in die eerste plek herinner dat Jesus deur sy kruisdood die straf vir ons sonde gedra het; dat Hy deur sy opstanding die mag van die dood oorwin het en so vir ons die pad oopgemaak het om persoonlik na God te kom in gebed.

Die Nagmaal bevestig vir ons God se belofte dat Hy by ons is, deur sy Gees, dat Hy ons teenwoordigheid opsoek, omdat ons nie self by Hom kan kom nie.

Die Nagmaal versterk ons ook vir die reis saam met Jesus tot sy wederkoms. Dit help ons om moed te hou en vorentoe te kyk, veral in die tye wanneer ons voel asof God ons nie hoor nie, wanneer ons voel of Hy van ons vergeet het of selfs wanneer ons wil opgee in die geloofsreis.

Met die Nagmaal vier ons fees omdat ons weet dat die onreg waaroor ons bid, ons gebrokenheid en die dood nie die laaste woord het nie. Die brood en die wyn herinner ons dat Jesus deur sy liggaam en sy bloed die laaste sê oor alle mag in die hemel en op aarde het.

Vat jou brood, hou dit in jou hand; kyk daarna, ruik daaraan, voel dit.

Die brood wat ons breek is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus, neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot volkome versoening vir al ons sondes.

Vat jou kelkie wyn, hou dit in jou hand; kyk daarna, ruik daaraan.

Die wyn wat ons drink is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus, neem dit, drink dit, dink daaraan en glo, dat sy kosbare bloed vergiet is, om vir ons die nuwe lewe in Christus te skenk.

Video: Skit Guys on Prayer pt. 2

This is Amazing Grace (Rustig en aanbiddend)

God stuur ons:
Offergawes
Slotlied:
U’s my God

Seëngroet:

Vriende, kyk my in die oë en ontvang die seën van die Here:

Mag die Here jou seën met ongemak oor maklike antwoorde,
halwe waarhede en oppervlakkige verhoudings
sodat jy uit die diepte van jou hart kan leef.

Mag die Here jou seën met woede oor onreg, onderdrukking
en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag die Here jou seën met trane om te stort vir mense wat pyn, verwerping, honger en oorlog ervaar
sodat jy ’n hand kan uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.

En mag God jou seën met genoeg dwaasheid om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie wêreld,
sodat jy dinge sal kan doen wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
Amen.