Wednesday, August 27, 2014

Oor Gawes van die Gees

Ek was vandag by, waar 'n spreker "onder leiding van die Gees" met 'n groep kinders gepraat het. Hy het later bely dat hy nie regtig voorbereid was nie. Hy het 'n klomp grepe uit die "Woord" aangehaal met geen verwysing nie. Een van die verskeie onderwerpe wat hy aangeraak het was oor tale en om in 'n geestelike taal te praat.

Die gawe van tale
My eie opsomming van die man se argument is dat tale onontbeerlik is wanneer jy in 'n dieper lewe saam met die Heilige Gees leef. Eers wanneer jy in 'n taal kan bid, kan jy werklik intimiteit met God beleef. Wanneer jy in 'n taal kan bid beweeg jy op so 'n vlak in die geestelike realm dat jy dan kan bid en dinge sal dan gebeur.

Sy motivering uit die "Woord" kom uit 1 Kor. 14:18 "Ek dank God dat ek meer ongewone tale of klanke gebruik as julle almal." Sy argument is dat indien Paulus, wat twee derdes van die Nuwe Testament geskryf het, dan tale gebruik, moet almal tale gebruik.

Paulus bring die gebruik van tale in verband met die verskillende gawes wat die Gees aan verskillende mense gee. Wanneer Paulus oor tale as gawe praat, praat hy basies net in 1 Korintiërs 12-14 daaroor. Wanneer hy dit dan bespreek het hy 'n "lae uitkyk" daarop. Paulus hanteer pertinent die gawe van tale as 'n "opsionele" gawe en nooit as iets wat elke gelowige ontvang nie. Om die waarheid te sê, Paulus leer dat geen gawe, behalwe een, aan al die gelowiges gegee word nie.

Die Geskenk van Gawes
Paulus begin sy lering en verduideliking oor die gawes met die gedagte dat dit slegs deur die Gees is dat ons kan bely "Jesus is die Here" en daarom is dit ook slegs deur die Gees se werk en genade dat enige iemand enige iets in die Naam van Jesus kan doen. Dit is ook deur verskillende mense dat verskillende goed gedoen word.

Kyk na 1 Kor. 12:4, 7-11
Daar is 'n verskeidenheid van genadegawes, maar dit is dieselfde Gees wat dit gee;

Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal. Aan die een word deur die Gees die gawe gegee om 'n woord van wysheid te praat, aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan die een geloof deur dieselfde Gees, aan 'n ander genadegawes van gesondmaking deur die één Gees. Aan die een gee Hy die krag om wonders te doen, aan 'n ander die gawe om te profeteer, en aan nog 'n ander die gawe om tussen die geeste te onderskei. Aan nog een gee Hy die gawe om ongewone tale of klanke te gebruik en aan 'n ander om dit uit te lê. Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik 'n gawe uitdeel soos Hy wil.

Paulus gaan dan verder en verduidelik hoe verskillende gelowiges, elkeen met afsonderlike (uniek selfs!) gawes dan by mekaar pas soos 'n liggaam met baie dele.

Die Gawe van alle Gawes
Paulus sluit 1 Kor. 12 af met die woorde: "Lê julle toe op die beste genadegawes." en begin 1 Kor. 13 met die woorde: "Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is: Al praat ek die tale van mense en engele, maar ek het geen liefde nie, het ek 'n stuk klinkende metaal, 'n galmende simbaal geword."

Paulus was 'n Jood. Die Joodse wysheid-skrywers het die gebruik gehad om die belangrikste punt van 'n saak in die middel van die argument te sit. In die middel van Paulus se skrywe oor die gawes, skryf hy oor die liefde. Die liefde is dus volgens Paulus die belangrikste gawe.

Ons het almal al soveel preke oor 1 Kor. 13 gehoor. Ons weet almal dat die Griekse agape-liefde hier gebruik word. 'n Dienende liefde wat ander se belange bo jou eie plaas. 'n Liefde in navolging van Christus (Fil. 2:5-9). 'n Liefde wat Jesus as "nuwe gebod" vir sy dissipels gee (Joh. 13:34-35).

Paulus sluit 1 Kor. 13 af met: "En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!" Die grootste van alle gawes is daarom die liefde.

Gawes ter wille van diens
Wanneer Paulus dan verder in 1 Kor. 14 oor die gawes praat, is sy argument dat gelowiges eerder moet konsentreer op gawes wat die gemeente dien of opbou.

"As julle julle toelê op die gawes van die Gees, streef dan na dié wat tot opbou van die gemeente dien, sodat julle daarin kan uitmunt" (1 Kor. 14:12).

Dis vir my opvallend dat Paulus nie die gebruik van tale afwys nie, hy moedig dit aan, maar vir persoonlike gebruik. Dit is egter ook opvallend dat Paulus die ander gawes meer aanmoedig, ter wille van diens!

Dit is ook vir my opvallend dat Jesus self nooit oor tale praat in die Evangelies nie. Jesus lê klem op naasteliefde en diens en dit is juis volgens Jesus die merk van mense wat Hom volg en onder beheer van die Gees leef. Die maatstaf wat Paulus gee van 'n lewe in die Gees, wat impliseer dat daar reeds 'n intieme verhouding met God aan die gang is en dat dinge in die geestelike realm in jou eie lewe gebeur is die vrug van die Gees. Gal. 5:22-23, 25:

"Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal."

Opsomming
Om op te som: die gawes van die Gees is alles geskenke uit genade van God. Die hoofdoel van die gawes is om gelowiges te bemagtig en bekragtig om mekaar lief te hê en te dien. Die merk van die Gees se werk in mense se lewe is nie die gawes nie, maar eerder hul gedrag teenoor mense.

Die laaste woord behoort aan Paulus: Rom. 12:6

"Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het."

Laat ons dan die genadegawes gebruik om mekaar lief te hê en te dien.